BlogsEditor's choice

Hoofartikel: Kontroversiële wetsontwerp onderteken

Pres. Cyril Ramaphosa gaan Woensdagmiddag die omstrede wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) by die Uniegeboue in Pretoria onderteken.

Die aankondiging is Maandag deur die presidensie gedoen.

Ramaphosa se tydsberekening is goed so voor die verkiesing wat op Woensdag, 29 Mei plaasvind en die ANC hoop waarskynlik om daarmee stemme te werf.

Opposisie partye dreig egter met hofsake en meen as die wet ingestel word, sal dit rampspoedige gevolge hê en die land se ekonomie net verder onder druk plaas.

Die Suid Afrikaanse Mediese Vereniging en Raad van Gesondheidsfinansies is ook omgekrap en dui aan dat hulle die wetsontwerp in die hof sal betwis.

Die NGV soos dit tans daar uitsien, sal gratis gesondheidsorg in openbare en private gesondheidsfasiliteite vir alle Suid Afrikaners daarstel. Dit skep ’n rooskleurige prentjie van ’n universele gesondheidsplan vir die man op straat as die realiteit waarmee hul dag tot dag in staatshospitale mee te doen kry.

Die burgerregte-organisasie, AfriForum het reeds in 2019 toe die kontroversiële wetsontwerp ter tafel gelê is, sy misnoeë te kenne gegee en daarop gewys dat die regering dan die mag sal hê om te besluit watter behandeling jy nodig sal hê, wie dit sal verskaf en waar jy dit sal ontvang.

AfriForum het sedertdien meer as 50 veldtogte geloods om die goedkeuring van die NGV teë te gaan.

AfriForum sê om vir fondsdekking in aanmerking te kom, sal landsburgers by ’n geakkrediteerde gesondheidsorgverskaffer of -instelling moet registreer. Kinders wat gebore word, sal outomaties as lede geregistreer word.

“Ongeveer 8,3% van die bevolking gaan verplig wees om die NGV ten bate van die hele land te befonds. Volgens die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) was daar in die 2018 belastingjaar slegs 4,8 miljoen geregistreerde belastingbetalers, terwyl Suid-Afrika se bevolkingsyfer in hierdie tydperk 57,7 miljoen was.”

Alle gesondheidsinkomste wat die NGV genereer, sal in ’n sentrale fonds inbetaal word waaruit betalings gemaak gaan word. AfriForum sê die NGV beoog ’n nasionale, enkelbetalende gesondheidstelsel vir Suid-Afrika wat diensvlakke, prys en die omvang van sorg sal voorskryf.

“Die fonds sal jou mediese inligting mag gebruik vir enige regmatige doel wat op die funksies van die fonds van toepassing is. Gesondheidsorgverskaffers sal ook hierdie inligting onder mekaar mag deel ten behoewe van lede. Die fonds beoog ook om ’n nasionale databasis op te stel en te handhaaf wat op die bevolking se demografie-en-epidemiologieprofiel gebaseer is.”

Die wetsontwerp bepaal dat fondslede gesondheidsorg móét ontvang by die primêre gesondheidsorgverskaffer waar hulle geregistreer is. Dit kan beteken dat jy by ’n sekere huisdokter gaan moet registreer. Die aantal besoeke wat jy mag aflê, kan ook beperk word. Die fonds en minister van gesondheid sal ook die mag hê om te besluit wat die minimum vereiste reeks persoonlike gesondheidsorgdienste is.

Hoewel ’n reeks mediese dienste, behandelings en prosedures gratis gedek word, sal die fonds nie behandeling dek as dit nie medies noodsaaklik is nie en waar daar nie ’n kostedoeltreffende ingreep is nie. Spesialisdienste word nie onder die NGV gedek nie.

As die fonds weier om vir ’n prosedure te betaal, sal jy kan appelleer, maar daar is geen tydraamwerk hieraan gekoppel nie – die wetsontwerp skryf slegs ’n “redelike tyd” voor. Die staat sal medisyne aan alle NGV-lede verskaf.

Daar sal ’n streng kontrak tussen die fonds en geakkrediteerde gesondheidsorgverskaffers of ‑instellings wees. Hierdie ooreenkoms sal bepaal hoeveel pasiënte hulle moet sien en hoeveel dienste hulle moet lewer. Sanksies kan teen gesondheidsorgverskaffers ingestel word as hulle nie dié ooreenkomste nakom nie en akkreditasie moet elke vyf jaar hersien word.

Die wetsontwerp kan egter tot gevolg hê dat gekwalifiseerde gesondheidswerkers die land verlaat Tans is daar huisdokters wat werkloos is, wat gaan van hulle word as die NGV staat- en private mediese sorg oorneem.

Hoewel daar nog ’n lang pad gestap gaan word voordat NGV in werking sal kan tree, is dit in die stadium duidelik dat net die ANC en sy makkers ’n voorstander is van die omstrede wetsontwerp en dat die poppe nog behoorlik gaan dans.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button