Blogs

Hoofartikel: Verandering bring vernuwende denke

Die Augustuswind loei vanaand om die hoeke van my nes. Dit sê vir my die lente is byna hier.

Die son steek vroeër sy kop uit en nooi ons om ons deure wyd oop te gooi. ’n Mens laat nie die kans verbygaan om jou kortbroek, geblomde rok en sandale nader te trek nie.

Ek hoor my pa se stem wat sê julle mag nie gaan swem voor die eerste lentereën uitgesak het nie. Die reën was glo die kieme en goggas weg.

Ná daardie reën gooi die Bosveld sy vaal jas af en die inwoners ontwaak soos die natuur uit hul winterslaap. Lente is die seisoen van vernuwe, mooimaak en buite onder die helder bloulug kuier.

Lente laat my dink aan nat grond se vars reuk en fraai vrolike blomme soos pienk petunias, pers delphiniums of geel papawers. Die lekker dae noop ’n mens om in jou tuin te wil woel en ook aan ’n draairoomys te smul.

Dit is nou ook die tyd om jou huis reg te pak en deeglik skoon te maak. Raak ontslae van al die wit olifante wat net ruimte beslaan. Ouetehuise en liefdadigheidsorganisasies sal nie nee sê vir skenkings nie.

Ek het verlede week die voorreg gehad om met die boere te gesels by die TLU se streekkongres wat hier buite Bela-Bela gehou is waar ek onder meer moes vertel hoekom ek hier in die platteland is en waarom ek in die koerant belê het.

My besluit is egter al 11 jaar gelede geneem toe ek my goedjies in die stad opgepak en na Mokopane verhuis het. Die hoofrede was dat ek meer gehaltetyd saam met my kind wou deurbring.

As enkelouer het ek hier in die Bosveld die geleentheid gekry om my seun elke dag te kon sien en bystaan in daaglikse aktiwiteite. Vandag pluk ek die vrugte en weet die gejaag en groot salaris van die stad sou nie kon opmaak vir die daarwees vir my kind nie.

In die platteland is dit ook die inwoners se gasvryheid, die heerlike warm klimaat en pragtige sonsopkoms en -ondergang wat my hart gesteel het. Hier ken jy nie net die garage-eienaar nie, maar ook die petroljoggie. Hier groet die vrou agter die kasregister van die supermark, waar jy elke middag gou inval om vars brood en melk te kry jou asof jul ou bekendes is.

Die Pos is inderdaad die mondstuk van die sakelui na die inwoners toe. As ’n dorp nie meer kan staatmaak op ’n gemeenskapskoerant nie, sal dit stadig sterf. Ons koerant is ’n weerspieëling van wat in ’n gemeenskap gebeur. As dit ’n lekker dik koerant is, weet ’n mens dit gaan goed met die plaaslike sakeondernemings. Dan kom iets soos beurtkrag en ons mense wat hul eie sakeondernemings bedryf trek swaar met die addisionele koste en minder effektiewe werksure as gevolg van die donkerte wat ons lewensaar kom afsny het. Ons huil saam as ondernemings wat al geslagte hier in die Waterberg is, deure moet toemaak.

Daar is vir ons almal onsekerheid en bekommernisse. Die veranderende omstandighede raak almal — van die kleinsake-ondernemings tot groot kettingwinkels. Die tyd waar in ons leef vereis dat ons buite die normale riglyne moet dink.

Net soos die ander ondernemings moet Die Pos dus ook in hierdie moeilike tyd waar Covid-19 en toe beurtkrag ons in ’n wurggreep het, planne maak om steeds die koerant winsgewend vorentoe te vat.

Gemeenskapskoerante se personeel moet ekstra hard werk en innoverend dink om steeds die nommer een kommunikasie netwerk te wees wat die gemeenskap saamsnoer en inlig met die nuutste nuusgebeure, al die lief en leed en ook die rol van opvoeder vertolk.

Die Pos hoop om binnekort vir ons kliënte ’n aanlyndiens te bied op platforms waar optimale dekking geniet kan word. Digitaal is nou en ook die toekoms.

Die koerant bied ook vanjaar sy eerste kunswedstryd vir leerders — van kleuters tot matrieks — wat nou uitgerol is in ons lesersgebied aan. Ons wil daarmee nie net ons betrokkenheid in die gemeenskap wys nie, maar ook die leerders kans gee om hul talente te wys en so kunste bevorder.

Ons het ook onlangs ’n koerantkursus by Hoërskool Warmbad aangebied waar ons gehelp het om ’n redaksiespan saam te stel met die oog op ’n skoolkoerant wat later vanjaar gaan verskyn.

Mag jy, liewe leser, in ’n land waar armoede, geweld, korrupsie en selfs mishandeling hoogty vier, steeds die betowering van hierdie nuwe vrolike seisoen ervaar en ook ons Hemelse Vader se hand daarin raaksien.

Die Waterberg het ’n ryk geskiedenis en Die Pos is deel daarvan. Dankie dat jy ons getrou ondersteun.

Related Articles

Back to top button