Blogs

Hoofartikel: Vreesloos vier ons vrouwees

Dit is vandeesmaand Vroue-maand en ons vier vrouwees met oorgawe.

Deesdae kan vroue hul drome met geesdrif najaag en steeds die gom wees wat hul geliefdes bymekaar hou.

Ek kyk onlangs na ’n televisiereeks wat in die dertig en vroeë veertigerjare in Jerusalem afspeel waarin vroue se minderwaardige en ondergeskikte rolle my bybly. Dit was nie maklik vir die Evasgeslag om in daardie jare uit die “onderdanige” boksies waarin hulle geplaas is, te klim nie.

Hier in Suid-Afrika het ons op Woensdag 9 Augustus nasionale Vrouedag gevier. Die dag is in 1994 ingestel om sowat 20 000 vroue se dapperheid te herdenk toe hulle in opstand gekom het teen die paswet wat swart Suid-Afrikaners verplig het om ’n pasboek by hulle te dra.

Die passe het die vryheid en daaglikse beweging van nie-blanke Suid-Afrikaners beperk. Die vroue het ’n versoekskrif teen die paswet met meer as 100 000 handtekeninge op die trappe van die Uniegebou neergesit. Dié petisie het versoek dat die paswet nie van toepassing moet wees op vroue nie, omdat dit tot gebroke huise lei, hul reg tot vryheid inperk en tot die vernedering van vroue lei.

Die vroue het daarna vir ’n halfuur in stilte gestaan voordat hulle ’n lied begin sing het wat vertaal kan word na “If you strike a woman, you strike a rock”.

My eerste gewaarwording van die verandering van vroue se rol in die samelewing was in die sewentigerjare met die emansipasie (bevryding) van die vrou. Talle vroue het toe begin om hul voorskote af te haal en hul regmatige plek in die sakewêreld ingeneem.

Die gepaste beroep vir jong meisies was om ná matriek onderwys te studeer of ’n tikster te word. Mettertyd het vroue besef hulle kan ook die leer in die korporatiewe wêreld klim en al hoe meer geleenthede het ontstaan om hulself te bekwaam in talle professionele beroepe.

Daar is nie vandag beperkings wat vroue en jong meisies aan bande lê om hul volle potensiaal te ontwikkel nie. Op die regsbank sit vroueregters en in ons regering is genoeg vroue wat hulle stemme dik maak.

Ondanks jou beroep, beteken vrouwees jy kan steeds liefhê en ook beskerm. Jy kan met ’n oop hand en hart gee en is geregtig om jou mening te lug en te veg vir dit wat reg is.

Ek het as beroepsvrou geleer dit is belangrik om getrou aan myself te wees. Ek kon ook my innerlike krag ontdek en besef dat emosionele krag veel sterker as fisieke krag is.

Ek stem saam met die skrywer Diane Mariechild wat gesê het: “A woman is the full circle. Within her is the power to create, nurture and transform”.

Vir al die vroue in ons lesersgebied vier jou vrouwees vandeesmaand. Wees vreesloos vrou en woeker met jou gawes en talente.

Related Articles

Back to top button