Blogs

Hoofartikel: Onthou jy nog …

Ek het grootgeword in die land van melk en heuning.

Dit was toe kinders nog buite sorg- en vreesloos gespeel het en hulle elke dag hul verbeelding vlerke kon gee.

Blikaspaai, wegkruipertjie, polisie-en-dief en “cowboys en crooks” was van die speletjies wat ons woonbuurt se kinders ’n hele middag kon besig hou. En wanneer ons bende-bende speel, wou my boetie nooit aan ons meisiekinders se kant wees nie. Nie eens die Tarzan-taal wat ons moes leer praat, kon hom oorreed om van bende te verwissel nie. Ons het briefies in die veld onder die groot boom duskant ons huis gaan begrawe of saamgetrek in die gat waar ons fort (’n ou motorwrak) was.

Ons kon in die straat skaatsplank ry, lang ente alleen gaan draf of op ons fietse kerjakker tot laataand. Dit was ook in die tyd wat jy tussendeur al die speel jou drie boeke wat jy by die dorpsbiblioteek uitgeneem het, getrou gelees het. Eers was dit Die Uile, Trompie, Saartjie en die Maasdorp-reeks en later het die Kinders van die Wêreld-reeks jou met ’n flitslig onder die kombers laat lees as Pa gesê het dit is ligte uit.

Ons kinders kon mekaar terg, treiter en omkoop met ’n taai swart Wilson-toffie. Wanneer Ma ons vieruur roep om te kom huiswerk doen, het ons traag agter ons skoolboeke ingeskuif.

Selfs toe ons begin lyf kry en tieners word, was die lewe ongekompliseerd al het Ma gesê ons meisies mag nie meer kaalvoet loop nie. Ons luister Springbok-radiostories en lees nou Ena Murray se liefdesverhale. Die biblioteekboeke word ook op ons koppe gestapel en ons loop soos pronkpoue op en af in die lang gang om ons postuur reg te kry. Dit is ook die outjie wat op sy swart-dikwielfiets ná skool verby my ry, wat my hart vinniger laat klop.

Naweke ry Pa ons aan na hokkie- en rugbywedstryde en ons dans by “garageparties” op Suzie Quatro se She’s in love with you. Dit was komkommervrye jare; so ook toe ons studente in Pretoria word.

Daar was jooloptogte, sokkiejolle, middernagvertonings by Sunnyside se teaters en Sterland se lekker melkskommels voor ons deurnag kon kuier.

Op 20 Mei 1983 net ná 14:30 verander ons sorglose lewe. Ek wag vir Pa om my te kom haal vir die naweek toe die aarde om my skud. ’n Bom het in Kerkstraat ontplof. Die ANC se militêre vleuel, Umkhonto we Sizwe, het die aanval geloods. Altesaam 19 mense is dood en 217 beseer. Dit word as een van die grootste aanvalle in die ANC se stryd teen Apartheid beskou en die teiken was die Suid-Afrikaanse Lugmaglede wat in die Nedbank Plein-gebou gewerk het.

Hierdie was die begin van vele ontploffings en oproer landwyd. Dit was ook ’n voorloper vir die land se geskiedenis wat onherroeplik sou verander.
Vandeesweek (Dinsdag 18 Julie) het ons landwyd Mandeladag gevier. Die dag word elke jaar gevier op oudpres. Nelson Mandela se geboortedag deur vir slegs 67 minute iets goedhartig by te dra tot jou gemeenskap en sodoende verandering te bring tot ’n behoeftige individu of gemeenskap se lewens.

Die 67 minute is vir die 67 jaar wat Mandela geveg het vir sosiale geregtigheid waarvan hy 27 jaar op Robbeneiland aangehou is vir sy verbintenis met terroristebedrywighede in ’n land waar ’n apartheidsregering aan die stuur van sake was.

Hy is in 1990 vrygelaat en in 1994 word hy die land se president. Hy lei Suid-Afrika na ’n vrye demokrasie, is ’n groot voorstander van versoening en word een van die mees geliefde presidente van ons land. Sy lewenswerk word wêreldwyd erken en geëer.

Vanjaar het die Mandela-stigting gevra dat landsburgers bome moet plant op Mandeladag. Ons woon in die hartjie van die lowerryke Bosveld, maar steeds bly die plant van ’n boom ’n belegging in ons natuurerfenis. Om aan ander welwillendheid te bewys is ’n kosbare geskenk. Hoop jy het jou 67 minute met ’n lied in die hart en n oop hand deurgebring.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button