Blogs

Hoofartikel: Stadsliggies, sneeu en Springbokrugby

Om op ’n Vrydagmiddag die pad Pretoria toe aan te pak, neem heelwat langer met al die padwerke wat motoriste noop om in ’n enkelbaan aan te kruie agter groot vragmotors.

Dit verg Job se Geduld voordat jy uiteindelik laatmiddag net voor die son water trek, jou bestemming in Johannesburg bereik.

Met so ’n uittog stad toe gaan soek ek die familie op en dan word daar behoorlik gekuier, geskenke uitgeruil en die kospotte van verskeie eetplekke word op die proef gestel.

Ek besef elke keer die kultuur in Johannesburg en Pretoria verskil en ek hou van albei. In Johannesburg heers ’n kosmopolitaanse atmosfeer met ’n verskeidenheid winkels en eetplekke wat wink. Hierdie keer smul ek aan Griekse en Turkse geregte en beloof myself as ek terug is in die Bosveld, gaan ek al die ekstra kilogramme wat om my heupe vergader het in ’n swembad wegwerk.

Ek kon Saterdag vir die eerste keer die rugbygees voor ’n toets in Pretoria beleef. Die tonne motors wat toeters blaas, landsvlaggies wat passasiers vrolik by vensters heen-en-weer swaai en toeskouers wat in hul groen truie na die stadion beweeg, sorg vir ’n aksiebelaaide atmosfeer. Die kaartjies om so ’n toets te aanskou is glad nie goedkoop nie, maar tog dok rugbyliefhebbers met ’n glimlag R1 000 op vir ’n sitplek iewers in die volgepakte stadion.

Kort voor die wedstryd begin, was ek bevoorreg om te sien hoe die Springbokke se bus met verkeersbegeleiding en loeiende sirenes voor my verbyry na die stadion, met 15 minute later die bus van die Wallabies wat volg met ’n arrogante Eddie Jones (Australië se afrigter wat die Springbokke klaar afgeskryf het as brandewyn-en-coke spelers).

Ná afloop van die oorwinning het die vreugdesvure nog tot laatnag hoog gebrand in die strate rondom Loftus Versveld. Die dreunsang kon nog tot laat gehoor word.

Met my terugkeer na die Bosveld Maandagoggend word Gauteng en ook ander dele van die land omskep in ’n sprokieswêreld toe die sneeu mildelik begin uitsak. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Maandag temperature van -4 °C in Johannesburg gemeet en sê in ’n verklaring dit was die eerste keer in 11 jaar dat dit weer in Gauteng gesneeu het.

Op sosiale media is verskeie video’s en foto’s van sneeubedekte grasperke en strate gedeel en ook waar jonk en oud in die sneeu baljaar. ’n Familielid laat weet sy vergeet skoon van die bibberende koue en voel weer soos ’n gelukkige kind.

Hier in Limpopo het die sneeu ons ontglip, maar ’n ysige koue wind het die inwoners na hul jasse, serpe en musse laat gryp en daar was ook steeds die brawe inwoners op straat geklee in kortbroeke en plakkies.

Terwyl ons die winter hier omarm, laat weet Die Pos se joernalis, Ronél van Jaarsveld, die erge hitte in Amerika laat haar na ’n koel lafenis soek.

Aan al die onderwysers en leerders wat soggens nog snoesig laat kan slaap, geniet die laaste deel van die skoolvakansie.

Related Articles

Back to top button