Blogs

Hoofartikel: Onthou jy? vra die winterson

Die winter is hier. So sê die bome wat hul rooi blare die wind ingooi. Ook my koulike voete op die teëls van ’n somershuis.

Die oorskietsop wat ek in die mikrogolf warm maak, smaak nie soos die groentesop van die vroue voor my nie. Nie soos my ma s’n nie. Nie soos my ouma s’n nie. Miskien smaak dit soos myne, mymer ek onder ’n kombers. Miskien smaak dit soos Checkers s’n, fluister ’n ondeunde gewete.

Van al die seisoene praat herfs die mooiste met my hart. Dit is die melankolie daarvan. Die fluisteringe van ’n einde en ’n nuwe begin vir dié wat geduldig kan wag. Die tyd wat dinge rustiger raak en daar tyd is vir gedagtes dink wat andersins moet wag terwyl jy langer sonlig-ure so vol prop as wat jy kan. En op ’n sagte, terloopse manier begelei dit ons die koue winter in.

Die koue laat my kleintyd se vakansies by Ouma op die plaas onthou. Met haar vadoek oor die skouer boelie sy die laaste sap uit ’n nartjie uit. Regte outydse nartjies met baie sap. As die glas vol is, roer sy ’n lepeltjie suiker by — net om die suur te breek.

Die lui laatmiddag-winterson herinner my aan kinderdae se perde wat met hul vet stoflywe tydsaam al penswiegend links-regs-links aangestap kom as ek fluit. Die Timotei-blondine van die wintersgras vou met grasie voor hulle oop en die dik sand demp hul hoefkloppe.

Dit herinner my aan die reuk van ’n songebakte nartjie wat ek geoefend met ’n draai-en-knak uit die boord pluk en die skil wat ’n fyn sproei oor my hand spuit as ek dit oopbreek. Ek kan die winterson ruik.

Daardie selfde reuk wat so welkom was as ons skooldae halftyd gretig nader stap en reik vir die bak vol lemoenhalfmane, net om minute later met taai vingers verder hokkie te speel.

Ek onthou laggend my peuter wat aangewaggel kom met ’n lemoen in die handjie. “Kyk my!”roep hy en hap regdeur die skil.

Die eerste ding op die tuinmaaklys vir die nuutgekoopte huis: suurlemoen- en nartjieboom. Die suurlemoenboom sorg jare later vir Sondaghoender en skoon braairoosters. Die nartjie, gevange in ’n pot danksy ’n Pinterest-foto, dra elke tweede seisoen een of twee nartjies wat die gesin gretig dophou. My kinders het nie ’n boord nie, maar ken die boompie voor die kombuisdeur se geite so goed soos ’n sitrusboer.

So ’n tydjie gelede kom ’n kind verby ons rugby-ouers gedraf, ’n bak met lemoenhalfmane in die hand. Die jong spelers kyk onseker na die bottels energiekoeldrank in die hand. Hierdie is lekkerder, laat hoor een met sap wat teen sy ken afloop. Hulle hardloop om met taai hande hul tweede helfte te gaan speel. Ek loer of daar nie dalk ’n halfmaan agterweë gebly het nie.

Dit voel soos kroek as jy ingevoerde sitrus in Desember eet. Asof ons onverdiend die winters van Spanje en Argentinië in ons monde druk. ’n Lemoen is soos ’n klein son wat in jou handpalm pas; die kersie op die koue seisoen.

Ek breek ’n lemoen oop vir my kind wat eksamen skryf. Eet, sê ek. Dit is goed vir jou brein. Dit laat jou dinge onthou wat jy gedink het jy reeds vergeet het.

Related Articles

Back to top button