Blogs

Hoofartikel: ’n Pot vol winter

As die Bosveld eers aan jou siel kom vat het, soek jy soggens die warm son en wil jy heeltyd die winter verjaag.

Ek loer deur my kantoorvenster en sien hoe die wind die boomtoppe vanoggend deurmekaar waai. Die winter is besig om stadig maar seker sy intrek te neem. Inwoners loop in die straat verby gepantser met baadjies en stewels en so tussen al die grou van die koue is daar positiewe verwikkelinge.

Dit gaan deesdae dol in Bela-Bela se strate soos al die stootskrapers en voertuie wikkel om die paaie om te dolwe en oor te doen. Almal wat my pad kruis, is opgewonde, want uiteindelik gaan ons in strate ry sonder om heeltyd te koes vir al die diep dongas.

’n Kollega merk op die strate is met die regmaak nou soos ’n aanloopbaan. Weg is die gate en ook die hobbels. Ek sien in my geestesoog hoe ’n vliegtuig seepglad spoed vat voor hy opstyg.

Daar heers ook oral opgewondenheid oor die vooruitsig van ’n nuwe privaat hospitaal in Modimolle. Dit sal nie net ’n goeie ekonomiese inspuiting meebring nie, maar ook gemoedsrus gee vir diegene wat hier en in die omgewing kom aftree en vir baie van ons ’n rit na die stad spaar.

Op ’n somber noot groet ons vandeesweek ’n geliefde Bela-Bela-inwoner. Die DA-raadslid, Johan Mills, wat diep spore in die dorp getrap en sy wysheid en insette sal gemis word. Die Pos se personeel betuig hul simpatie aan sy geliefdes.

Die winter herinner my egter dat selfs die donkerste tye verby sal gaan. Dit is voorwaar die seisoen vir nabetragting hou en plek maak vir groei.

Wanneer die winter saans sy kombers om my vou, eet ek sop en brood en lê laataand knuppeldik knus op my blou bank en luister na die klanke van goue oues. Dit is nou as beurtkrag dit toelaat. David Essex sing van A Winters Tale se nagte wat kouer is en ek verlang na geliefdes. Ek dink aan Pa wat ná ’n sakebesoek aan Duitsland teruggekom het met winterbaadjies vir geskenke en vir ons in die kombuis geleer het om ghoulash te maak. Ek dink terug hoe ons kinders laggend pannekoeke in die lug opgeskiet en omgedraai het voor dit ’n lagie kaneelsuiker gekry het.

Voor slaaptyd steek ek my neus by die deur uit en rig my oë na die swart donkerte daar bo. Die skrywer en digter Eugène Marais se Winternag kom staan voor my. Hy was mos hoeka ’n inwoner van ons geweste.

O koud is die windjie
en skraal.
En blink in die dof-lig
en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade.
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.
O treurig die wysie
op die ooswind se maat,
soos die lied van ’n meisie
in haar liefde verlaat.
In elk’ grashalm se vou
blink ’n druppel van dou,
en vinnig verbleek dit
tot ryp in die kou!

— Eugène Marais (Winternag)

Related Articles

Back to top button