Blogs

Hoofartikel: Paasfees veel meer as rus en lekker eet

Paasfees is op ons voorstoep en stap ’n mens die winkels binne, is dit die heerlike kaneel- en neutmuskaatgeur van die varsgebakte paasbolletjies wat jou mond daar en dan laat water.

Paasbolletjies is sinoniem met Paasfees en in die Kaap geniet ’n groot deel van die bevolking kerrievis daarby. Dié vreemde kombinasie is vir baie mense simbolies aan die Bybelse verhaal waar Jesus die visse en brood vermeerder en laat uitdeel het aan die skare.

Kerrievis is ’n dis wat vooraf berei kan word sodat jy nie nodig het om lang ure voor die stoof hoef deur te bring nie, lees ek iewers op die internet. Daar is ook verskillende mites oor die oorsprong van paasbolletjies. Die oorspronklike Engelse naam vir paasbolletjies was Good Friday Buns of Cross-buns lees ek. Die hedendaagse naam vir paasbolletjies is na bewering in 1733 vir die eerste keer opgeteken en dui vermoedelik op bakkers wat toe die naam hard uitgeroep het vir mense om hulle warm bolletjies te kom koop.

Hoe dit ookal sy, Paasfees word wêreldwyd met verskeie tradisionele gebruike gevier, maar wat is nou lekkerder as om hier in die Bosveld jou oggend te begin met ’n warm paasbolletjie met botter en konfyt?

Onthou ook om paaseiers in jou huis en tuin weg te steek om die kinders besig te hou. Op die winkelrakke is ’n magdom sjokolade- lekkers toegedraai in helder, blink kleure wat die oog vang, want wat sal Paasfees nou wees sonder paaseiers? Die herkoms van die paashaas en eiers verwys terug na antieke seremonies, nog voor die koms van Christus, lees ek.

Dek jou tafel Sondag keurig met Suid-Afrikaanse kos soos lamsboud, gebraaide aartappels, groenbone en pampoenkoekies en geniet ’n Christusfees saam met jou geliefdes.

Mag ons net nie vergeet dat dié fees oor baie meer gaan as net rus en lekker eet en mag Jesus se opstanding ná die kruisiging in die tyd gevier en geëer word.

Die Pos wens al sy lesers ’n geseënde Paasfees toe. As jy op die pad is, wees veilig. Ons sê ook welkom aan al die besoekers wat in ons lesersgebied kom uitspan.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button