Blogs

Hoofartikel: Dink voor jy sê of doen

Die jaar is volstoom aan die gang en al die Kers- en Nuwejaarsvieringe is lankal vergete, maar op Dinsdag 21 Maart is dit weer tyd om ’n belangrike dag te vier.

Menseregtedag is ’n dag waarop ons die regte van mense gedenk — dus is dit jaarliks ’n openbare vakansiedag.

Menseregte verwys na die basiese regte en vryhede waaarop ons as landsburgers geregtig is en dit sluit onder meer in die reg tot vryheid van denke, uitdrukking, onderwys, gesondheidsorg, persoonlike privaatheid en gelykheid voor die reg. Die Handves van Menseregte beskerm die regte van alle landsburgers en daarom is dit belangrik dat ons die mees basiese regte moet ken.

In Suid-Afrika is Menseregtedag vir die eerste keer op 21 Maart 1995 gehou. Dit word daarna jaarliks herdenk ter nagedagtenis aan die Shapeville-slagting waarin 69 mense dood is toe hulle slaags geraak het met die polisie tydens ’n protesoptog. Mense het op dié dag betoog teen die destydse paswette.

Dit is nou jare later en meer onlangs is die hele wêreld omgedop toe die Covid-19-pandemie in 2019 kop uitgesteek het.

Die eerste bevestigde geval in ons land is op 4 Maart 2020 aangemeld. Dr. Zweli Mkize, destyds minister van gesondheid, het verklaar dat die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) bevestig het dat ’n man van KwaZulu-Natal positief getoets is ná ’n besoek aan Italië. Die departement van gesondheid het op 5 Julie verlede jaar aangekondig dat daar meer as twee miljoen bevestigde gevalle in Suid-Afrika was en duisende sterftes.

Die gevreesde virus het die mensdom in ’n wurggreep gehad en genoop om die nood van ander raak te sien. Liefdadigheidorganisasies en inwoners het ook hier in die platteland hande gevat om weekliks kospakkies op te maak vir gesinne waar die broodwinners hul salarisse tydens grendeltyd kwyt was.

Mense het oor lande en provinsies se grense uitgereik na mekaar. Covid-19 het die mens se kwesbaarheid ontbloot. Die pandemie het die ideale geleentheid gebied om ander om jou raak te sien en in ag te neem. Indien jy virussimptome gekry het, was dit dus raadsaam om eerder tuis te bly, of as ’n vriend jou nie met die hand wou groet nie, het jy dit gerespekteer.

Dit laat my besef: Enige reg kom ook saam met verantwoordelikheid. Verantwoordelikheid teenoor jou medemens, omgewing en selfs nageslagte.

Met Menseregtedag maak ons nie net aanspraak op ons eie regte nie, maar erken ook die regte van mense om ons. Ons plaas onsself dan ook in ander se skoene en dink aan hoe dade en selfs woorde ander kan beïnvloed voordat ons dit sê of doen. Die respek vir ander se menseregte moet elke dag ons leefwyse wees.

Related Articles

Back to top button