Blogs

Hoofartikel: Tyd vir verandering

Die Pos is opgewonde om aanstaande week ’n nuwe baadjie aan te trek met ’n splinternuwe mashoof.

Ná bykans ’n dekade is dit tyd om by die vooruitgang in die mediabedryf aan te pas en daarom het ons dit goed gedink om die mashoof van die koerant te verander.

Ons het reeds vir ons lesers op Facebook gevra om uit drie mashoofde die een te kies wat hulle dink voortaan op ons voorblad moet pryk. Die reaksie was oorweldigend en daar is vandeesweek op kantoor koppe bymekaar gesit en ’n finale besluit geneem. Kyk gerus volgende week hoe lyk ons nuwe gesig.

Ons skop ook vandeesweek af met ’n blokraai en kom kyk of jy die Toets jou kennis-vrae korrek kan beantwoord.

Nie net speel die Die Pos ’n belangrike rol as waghond vir die gemeenskap nie, maar ’n gemeenskapskoerant is ook die stem van inwoners wat dagblaaie en ander media nie kan wees nie. Die Pos skryf weekliks oor die inwoners en oor gebeure in sy lesersgebied en daar word gedeel in al die lief en leed. Wat ’n lekkerte is, is dat die inwoners praat van “ons” koerant. Dit neem ’n span mense — van die bemarkers tot die redaksie, administratiewe personeel en verspreiders — om getrou elke week vir die inwoners ’n koerant met die nuutste nuus te bring.

Die Pos het ook ’n kinderfonds wat uitkoms bring waar daar nood in ons lesergebied is. Ons het verlede week duisende rande se skryfbehoeftes gekoop en aan Laerskool Warmbad geskenk. ’n Gedeelte van die R8 wat jy elke week vir jou koerant betaal, word in die Die Pos Kinderfonds gestort.

Die Pos is die afgelope 40 jaar die nommer een leesgenot van die gemeenskappe wat ons bedien en die personeel sien daarna uit om vanjaar verskeie projekte aan te pak waarby oud en jonk in ons lesersgebied betrokke kan raak.

Ons sê in die maand waar die liefde hoogty vier, dankie aan al ons getroue adverteerders en lesers vir jul ondersteuning. Volg ons ook sommer dadelik op Facebook om saam te gesels. Dit is lekker om van jou te hoor!

Related Articles

Back to top button