Blogs

Hoofartikel: Gerat vir 2023 se uitdagings

Talle nuusgebeure in 2022 het Suid-Afrikaners op die punte van hul stoele gehou en in 2023 word net so ’n uitdagende jaar verwag.

Deur ingelig te bly wat op die nuusfront gebeur besweer ’n mens egter jou onsekerheid en vrese. Eienaars van sakeondernemings en die inwoners hier in die Die Pos se lesersgebied sal steeds planne moet beraam om die voortslepende beurtkrag en waterprobleme die hoof te bied.

Kenners voorspel daar is nog sowat 18 maande se beurtkrag wat vir ons voorlê wat beteken kragopwekkers, veral in die werksplek, is hier om te bly in 2023.

Ná Covid-19 se verdoemende uitwerking op die ekonomie het beurtkrag in 2022 verder bygedra tot werkloosheid en armoede. Ons voel dit ook hier op die platteland met sakeondernemings wat steeds swaar trek.

’n Oormaat politiek word vir 2023 voorspel met die aanloop tot die 2024-algemene verkiesing. Politieke partye gaan als doen om stemme te probeer werf en koalisieregerings is moontlik ons voorland. ’n Swaard hang ook nog oor president Cyril Ramaphosa se kop na die huisbraak en diefstal van buitelandse valuta op sy wildsplaas, Phala Phala, sowat 43 km buite Bela-Bela. Daar word voorspel dat dit hom moontlik vanjaar sy amp kan kos.

Oorkant die water woed die oorlog tussen Rusland en Oekraïne voort. Duisende mense het al met hul lewens geboet en miljoene ander moes hulle wortels uittrek en ’n ander heenkome gaan soek.

Die oorlog het nie net in Oos Europa nie, maar ook wêreldwyd die styging in voedsel- en brandstofpryse tot gevolg gehad. Suid-Afrikaners, ook ons hier in die Bosveld, het dit beslis in 2022 aan hul beursies gevoel wanneer daar inkopies gedoen of brandstof ingegooi is.

Die daling in brandstofpryse wat verlede week van krag geword het, is dus met ope arms verwelkom.

’n Nuwe Covid-19-variant bekend as die XBB.1.5, is einde Desember 2022 deur navorsers aan die Universiteit van Stellenbosch geïdentifiseer. Sover bekend is nog net een geval in die Wes-Kaap bevestig.

Op ’n ligter noot word die Rugby Wêreldbeker vanjaar in Frankryk gespeel. Sport bou ’n nasie en sou die Springbokke die gesogte beker vir die tweede agtereenvolgende keer lig, sal dit beslis ’n positiewe impak op die gemoed van die land se inwoners hê.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button