Blogs

Hoofartikel: Die Pos is steeds die lekkerse lees!

Wanneer jy vir sowat 40 jaar in die koerantbedryf betrokke is, vra mense my dikwels: Raak jy nie verveeld of moeg nie?

Die antwoord kom altyd spontaan. Joernalistiek is nou eenmaal in my bloed. Hoe raak ’n mens moeg vir ’n werk wat nie een dag dieselfde is nie en jou uitdaag om jou taalkennis te verbreed?

Joernalistiek is seker dié beroep wat ook jou mensekennis op alle vlakke van die samelewing verbreed. Jy kry die wonderlik voorreg om met mense van alle uithoeke van die land om te gaan.

Daar is die beroemde, rykes, armes, sportmense, film- en sangsterre, politici en selfs misdadigers. Jy kry ook baie keer die geleentheid om van die mooiste plekke te sien. So was ek al tot Suidpool toe.

Hier by Die Pos streef ons na gebalanseerde nuus, die mense wat die nuus maak en die storie agter die storie. Daar word dus noukeurige gesif deur die bewerings om seker te maak die ware feite word weergegee, veral met fopnuus wat met die koms van sosiale media dikwels aan die orde van die dag is.

Die Pos berig oor die mense en gebeure in die dorpe wat hulle bedien. Dit is wat hulle anders maak as die groot nasionale dagblaaie. Dit is belangrik dat die gemeenskappe wat ons bedien weet Die Pos is hulle nommer een koerant.

Die rol wat die koerant as waghond in die gemeenskap speel, moet ook glad nie onderskat word nie. Die koerant hou ’n oog oor belangrike rolspelers en gebeure wat die gemeenskap beïnvloed.

Koerante, nasionaal of kleiner gemeenskapskoerante, herskryf die geskiedenis. Dit wat gister gebeur het, die nou en ook soms wat vorentoe voorlê.

Dankie vir elkeen wat Die Pos in 2022 ondersteun het. Mag die klein koerant met die groot hart nog lank ons lesergebied bedien met nuus wat raakvat en saakmaak.

Hierdie is ons laaste gewone koerant vir die jaar, maar onthou Die Pos bring vanaf Donderdag 22 Desember ons 2022 Kersuitgawe na ons lesers. Moenie hierdie heerlike leesgenot, wat ook ’n blik gee oor die jaar se gebeure, misloop nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button