Blogs

Hoofartikel: Verlief, verloof en vaarwel

Die gesegde lui: Elke pot kry ’n deksel en so het ek, bo alle verwagting, ook myne gevind.

Daar is aanvanklik katvoet heen-en-weer oor die langafstand gekuier. Mettertyd het ons mekaar se families en vriende ontmoet en mekaar se dorpe leer ken.

Ná meer as ’n jaar se langafstandvryery het die beminde op ’n windstil lente-aand op een knie die ja-woord gevra. Die opwindende nuus is wyd en syd gedeel en gelukwensings het van alle uithoeke van die wêreld ingestroom. Die twee skoonma’s wil dadelik wegspring om die troue te reël terwyl die pasverloofdes briek aandraai, want hoe gemaak met die langafstanduitdaging?

Die grootste vraag (buiten die ja-woord natuurlik) is wie moet bly en wie moet gly?

Daar is kop gekrap, raad gevra en gebedsversoeke aangestuur. Lysies met voordele en nadele vir elke scenario is opgestel, uitgevee, doodgekrap en oor begin. Uiteindelik is Gauteng as wenner verklaar. Familie, vriende en bure het met begrip koppe geknik, want dit maak sin op papier.

Maar my hart is swaar. Hoe skud ek die Waterberg se stof en soetdoringstuifmeel van my voete af? Hoe groet ek hierdie sout-van-die-aarde-mense wat my toegelaat het om vir twee jaar hulle stories te deel? Wat my met opregte plattelandse hartlikheid ontvang het en geduldig die geskiedenis vir my uitgelê sodat ek weet wie in die Waterberg hoort waar.

Dan praat die gryskoppe met wysheid: “Die lewe is kort. Gryp hierdie geleentheid op ware liefde met albei hande vas. ’n Mens is nie gemaak om alleen te wees nie.”

Met vrede in my hart wéét ek dat my langafstandliefde, die een wie se naam in my hartklop eggo, my sielsbeminde is. Soos Rut van die Bybel sê ek ook nou: “Jou pad is my pad, jou huis is my huis, jou land (Gauteng) is van nou af my land tot in lengte van dae.”

Die dag van die Groot Trek gaan kort voor Kersfees aanbreek en ten spyte van die hol kol op my maag en die (tydelike) chaos in my woonplek, het ek vlinders oor hierdie nuwe hoofstuk. Tog sal elke soetdoring- en maroelaboom my laat terugverlang na die Waterberg en sy hartsmense.

Related Articles

Back to top button