Blogs

Hoofartikel: Allamapstieks allawêreld Afrikaans!

Hier is nou ’n lukrake vraag: Wie praat nog suiwer Afrikaans?

In die hedendaagse tyd van kitskos en kitsoplossings, tegnologiese vooruitgang, sosiale media en wêreldwye blootstelling skiet onkruid orals op in ons Afrikaanse taaltuin.

Dit is waar dat Afrikaans ’n lewendige, groeiende taal moet wees wat voorsiening maak vir nuutskeppings in die snelgroeiende tegnologiese kuberruimte. Twee dekades gelede was daar nie dinge soos ‘augmented virtual reality experiences’ nie.

Almal gebruik nou slimfone, vonkpos (e-pos), WhatsApp, stemboodskappe en sosiale mediaplatforms. Boeke, koerante of tydskrifte word nou gelees op elektroniese toestelle wat orals saamgedra word. Televisie is ou nuus want deesdae word nuusgebeure onmiddellik getwiet of met live streaming die wye wêreld ingestuur.

Wanneer laas is ’n outydse woordeboek (gedruk op papier) nadergetrek om ’n woord op te soek? Wie gebruik nog woorde soos argeloos, polfyntjie, polemiek, noenmaal, argwaan, spelonk, konsulaat, introspeksie, vabond of rasieleier?

Wag-’n-bietjie. Soms neem dit net ’n oomblik langer om die korrekte Afrikaanse woord in jou geheuebank te vind en soms is dit nodig om gou iemand te vra – ’n kollega, buurvrou, of jou Ma.

‘Tannie Google’ of (gratis) aanlyn woordeboeke op jou slimfoon spoeg ook blitsvinnig sinonieme en vertalings uit. Hoewel dit raadsaam is om ’n tweede opinie te kry want partymaal kan die verkeerde vertaling die betekenis liederlik verander.

Wanneer dit by motors, bande en enjins kom moet meeste mense kopkrap vir die regte benaming. Maar as jy vrou-alleen langs die pad staan met ’n pap wiel gee jy nie om in watter taal jou kar opge-jack word nie, solank die mechanic net die nodige spanners in sy toolbox het om die tyre te fix. Al ry die einste motorwerktuigkundige ’n ou skedonk met pikswart bolle rook wat by die uitlaatpyp uitborrel.

Afrikaans bied ook kleurvolle skelwoorde met stygende vlakke van intensiteit na gelang van die omstandigheid. In die ou dae is hoërskoolseuns gereeld uitgekryt as kwaaijongens, kansvatters, kapokhaantjies, belhamels en ramkatte. Leeglêers, deugniete, lamsakke, en gomtorre drentel doelloos straataf, kastig opsoek na werk, wat hul immer ontwyk. Spesiale melding moet gemaak word van skorriemorries, rampokkers, mamparras en werfetters. Moenie vergeet van die bakvissies, bitterbekke, galbrakers, skindertonge, feekse, flerries en addergebroedsels nie.

Daar is verseker nie nog ’n taal wat so vingerlek-lekker op die tong val, soos Afrikaans nie!

  • Met meer as 7.2 miljoen Suid-Afrikaners wat Afrikaans as huis- en hartstaal praat, het die bekroonde (Benoni-tot-Hollywood) aktrise, CharlizeTheron, haar kop in ’n bynes gesteek met haar ondeurdagte opmerking tydens ’n potgooi geselsprogram, dat slegs 44 mense nog Afrikaans praat (SmartLess podcast 14 November).Allawêreld, nee, kry jou feite reg Charlize!

Related Articles

Back to top button