Blogs

Hoofartikel: Blapse, reën en Kersgety se seën

Om foute te maak, is menslik.

Hoe lieflik val die reën nie vandeesweek nie.

Ook hier in Die Pos se lesersgebied word ons met die aanbreek van die nuwe week geseën met die sluise van die hemel wat wawyd oop is.

Ek sê vir my kinders, wat elders woon, dit reën katte en honde, die lug is grou en, nee, Jakkals en Wolf trou nie vandag nie. Dit gebeur net as die son saam met die reën gesig wys.

Die groen boomtoppe se blare ritsel in die wind en ek loer deur my kantoorvensters ondertoe waar die Demokratiese Alliansie (DA) hard aan die werk is by hul stalletjie oorkant die straat.

Die tussenverkiesing op Woensdag 16 November in Wyk 1 kom nader en die onderskeie partye is die afgelope weke aan die woeker in Bela-Bela om stemme te werf. Die dorp se inwoners sal ’n raadslid verwelkom wat die diensleweringsprobleme wat die dorp so lamlê, pro-aktief kan aanspreek.

Ná dese is die Bosveld grasgroen.Voeg daarby die pragtige sonopkoms en -ondergange en ons is gereed vir die feesseisoen se vakansiegangers om te kom uitspan.

Met die feestyd so byna op ons voorstoep, oefen ek en ’n paar oulike vroue weekliks in ’n swembad om te kyk of ons nie ontslae kan raak van ongewenste rolletjies nie. Die ironie is dat ’n mens dan weer oor die Kersgety maklik swig as jy voor die gedekte feestafel met die vetgesmeerde kalf staan. Hoe sê ’n mens nou nee vir ham, skaapboud of ’n lekker Kerspoeding? Breek Januarie aan, begin die stryd van vooraf met blink Nuwejaarsvoornemens vir ’n meer gesonde, fikse en vietse jy.

Terwyl ek na vandeesweek se nuuslys staar, dink ek aan die blaps wat ek in verlede week se koerant raakgesien het. Donderdae is ek vroegoggend by die koerantverspreiders om te loer hoe die varsgedrukte koerant lyk. Dit is ook gewoonlik dan wanneer my oog moeilik ’n fout miskyk. Nou ja, daar is toe ’n “oepsie” in een van die opskrifte. Om te dink vyf mense het die vorige dag geswoeg en gesweet om seker te maak die berigte is foutloos.

Ons het met al die proeflees verander, reggemaak, weer gelees, verander en weer gekyk voordat ons uiteindelik tevrede die finale kopie drukkers toe gestuur het. Ek is eers vies, maar besef toe weer die koerant bly ’n spanpoging en ’n produk van ’n klomp mense. Ongeag al die tegnologie wat ons help, kan foute steeds insluip.

Om foute te maak, is menslik. Gelukkig maak foute dat ons weer kan opstaan, daaruit kan leer, groei en aanbeweeg. As jy nog nooit gefaal het in die lewe nie, hoe sal jy weet wat dit is om suksesvol te wees?

Die feit dat ’n mens fouteer, beteken ook nie jy is ’n fout nie. Die geheim is om jou fout te erken, jouself of die ander persoon te vergewe en vorentoe te kyk.
Niemand is perfek nie en foute maak, klein of groot, is alles deel van elke dag se leef.

Related Articles

Back to top button