Blogs

Oop kaarte: Nuwe Warrie-hoof het groot planne

Hy wil wegbeweeg van ’n reëlgedrewe skool na een waar goeie waardes geld.

Só gesels Louis Cilliers, nuwe hoof van Hoërskool Warmbad, oor sy blink planne om die skool na groter hoogtes te neem.

Hy weet Hoërskool Warmbad en selfs die gemeenskap staar verskeie uitdagings in die gesig.

“Dit is dus ons missie om die skool op te bou. Dit moet ’n skool van uitnemendheid word. Die skool is immers die middelpunt van die dorp.”

Cilliers is vir my geen onbekende en min het ek geweet ons paaie sal weer hier in Bela-Bela kruis. Hy was tevore adjunkhoof van Mokopane English Combined School voordat hy in 2015 hoof geword het van Hoërskool Louis Trichardt.

So tussendeur sy werk daar het hy in 2019 sy meestersgraad in opvoedkundige bestuur aan die Universiteit van Pretoria behaal, vertel hy.

“Dit was ’n groot uitdaging, want tussen al die ure se werk het ek ook ’n gesin gehad met al drie my dogters nog in die huis.”

Hy moes egter eers die leisels neerlê toe sy bejaarde pa wat in Pretoria boer hulp nodig gehad het, maar hy is bly hy kon nou weer sy vlerke sprei en terugkeer na onderwys.

“Ek kan nou weer my droom uitleef. Ek is ’n onderwyser in murg en been.”

Cilliers is opgewonde oor sy aanstelling en planne. Vir hom is die beginpunt dissipline.

“Ons begin met dissipline waaraan die personeel en kinders onderhewig is. Met ’n dissiplinestelsel sal ons leerders vasgevat word. Hulle moet weet daar is grense waarbinne jy beweeg en as jy verkeerd optree, is daar ’n gevolg. Dit is nie net dissipline met straf nie, so ons moet die positiewe ook sien en deur goeie waardes die skool na ’n heeltemal nuwe vlak toe neem.”

Hy besef egter kinders daag uit.

“Daaroor moet ons nie twyfel nie. Hulle het egter ook uitdagings by hul huise, saam met hulle maats en daar is ook die druk in die verskillende ouderdomsgroepe.”

Cilliers wil waardes vestig wat die leerders ook huis toe kan neem sodat dit verder uitkring. Hy meen op die ou end sal dit ’n sneeubal-effek hê en oral in die gemeenskap ’n positiewe verskil maak.

Prestasie is vir hierdie nuwe skoolhoof belangrik en ’n 100%-matriekslaagsyfer aanstaande jaar is glad nie onmoontlik nie. Hy wys ook daarop dat hy graag sal wil hê dat die gr. 7’s hul hoërskoolloopbane hier in hul tuisdorp aanpak en nie uitwyk na ander skole buite die dorp nie. Tog besef hy dat die leerders wat presteer en na ander skole gaan, baie keer vir ’n ander kind wat bereid is om hier te bly, die geleentheid gee om ook in die eersterugbyspan te speel of ’n leier te word. Deelname is vir hom uiters belangrik.

Cilliers sê hy besef hy kan nie die skool bestuur sonder die betrokkenheid van die ouers en die gemeenskap nie.

“Elke onderwyser hier het ’n passie en roeping. Ons moet uit die boks dink en ’n verskil in die skool en gemeenskap maak. Ons beoog om geleenthede vir die gemeenskap hier te hou soos byvoorbeeld ’n pretdraf waaraan almal kan deelneem. Die fasiliteite van die skool is ook daar vir die gemeenskap solank dit nie misbruik word nie.”

Sy planne sal nie oornag alles verander nie; dit gaan tyd neem, selfs jare, en daarom vra hy dat die ouers en gemeenskap met die skool hande vat.

Hy vertel hy pendel tans tussen Pretoria en Bela-Bela totdat die hoofdehuis op die skoolterrein se opknapping voltooi is. Sy vrou is nog in Pretoria vir tyd en wyl waar sy skoolhou by Afrikaans Hoër Meisieskool. Sy jongste dogter is vanjaar daar in gr. 9.

Cilliers is self ’n ywerige sportman wat al die moordende Comrades-maraton meer as een keer kafgedraf het. Hy het ook vroeër jare as vleuel uitgedraf op die rugbyveld.

Ons groet en so met my uitstap besef ek die Warries het ’n dinamiese hoof en dis duidelik hy het groot planne om ’n nuwe baadjie vir die skool aan te trek.

Related Articles

Back to top button