Blogs

Hoofartikel: Aanlynliefde word nou langafstandliefde

Die Pos het onlangs ’n paar briewe ontvang van enkellopendes wat ook die kuberruim aangedurf het opsoek na geselskap en miskien selfs ’n lewensmaat.

Daar word aanlyn gekoer-koer en getwiet soos verliefde duifies wat vlerksleep en ogies maak. Harte gallop soos die liefdesvure opvlam. Die kuberruim blits behoorlik met die bemindes se heuningwoorde.

Maar o wee, wanneer dit tyd word vir die volgende stap in die verhouding, daardie eerste ontmoeting, word dit ’n tameletjietaaitoffie wat jou stopsels een vir een uittrek.

Die lewe gaan oor tyd en geld, maar dit wil voorkom asof die liefde deesdae dieselfde voorwaardes het, want besluite word geneem na gelang van hoeveel tyd en geld tot elkeen se beskikking is.

As mejuffrou-perfek in Kaapstad woon en Boetie van die Bosveld in Vaalwater, sal dit peperduur wees om mekaar gereeld te sien. Selfs die kreatiefste boekhouer sal nie daardie somme kan balanseer nie.

Miskien is Hester-haarkapper in Groblersdal ’n beter opsie vir jou beursie? Of dalk maak Martin-mechanic van Modimolle se sakpasreisprys hom ’n aantrekliker keuse? Met die hemelhoё petrolprys is dit te verstane dat reisafstand hoog op die pasmaat-wenslysie is.

Maar hoe gemaak met die verlangende mense op Pofadder, Kakamas en Brandvlei in die Noord-Kaap? Of die eensames op Musina, Alldays, Marken en Lephalale? Die lelies van die dale staan op hierdie afgeleё dorpe maar yl gesaai en wyd uitmekaar.

’n Mens kan nie help om te wonder of daar nog enige tekens van Voortrekker-bloed, wat kaalvoet oor die Drakensberge sou loop, oor is nie?

The Proclaimers se bekendste liedjie I’m gonna be vertel van ’n vasberade man wat alles sal doen (en opoffer) vir sy geliefde. Die aansteeklike refrein: “I would walk 500 miles and I would walk 500 more, just to be the man who walks 1 000 miles to fall down at your door,” getuig beslis van sy toewyding en liefde.

Hoeveel myle is jy bereid om af te lê vir jou langafstandliefde?

Related Articles

Back to top button