Blogs

Hoofartikel: So stap-stap deur die sonskyndorp se strate

Ek loop die pad my lam, met tekkies, hakke of platskoene stap ek deur Bela-Bela se strate.

Die personeel kyk my skeef aan as ek sê ek ry gou dié kant toe. Ry sê hulle, “hier stap ons. Dis net hoek-om of straat-af”. So leer ek toe om ná ’n week of twee my hoë hakke te verruil vir gemaklike platsandale.

Op Erfenisdag besluit ek om vroegoggend te gaan stap en te kyk of ek ’n erfenisbaken kan eien. Ek stap verby ’n paar huise uit vergange se dae met gewels, “broekie-lace” stoepe en feetjietuine. Daar is ook woonstelle wat ek glo eens op ’n tyd gewilde vakansie-afpakplekke was voor die pandemie die ekonomie laat tuimel het en beursies dunner gelaat het. ’n Naambordjie wat sê Lala Pansi laat my verlang na my ouerhuis eens op ’n tyd aan die Natalse Suidkus.

Die munisipaliteit lyk vir my vanoggend soos ’n reuseherehuis, want waar ek vandaan kom, was die gebou soveel groter, kouer en vol korrupsie. Daar moes ek en die joernaliste baie keer met protesoptogte voor die hekke koes en hardloop as die polisie losgebrand het met rubberkoëls. ’n Mens het ook dikwels jou dag in die warm son omgewag vir dienslewering en hier stap ek nou die dag tjoef-tjaf in en uit en die gesigte agter die toonbanke was vriendelik.

Ek hou van die kantoor waar ek werk. Dit laat my dink aan ’n mini-kasteel uit een of ander kinderverhaal. Die eerste keer wat ek hier bo in die “toring” in my kantoor ingestap het, het ek by die venster uitgeloer en gedink ek gaan soos Raponsie my hare laat groei en afgooi vir die prins om op te klim. Die personeel lag vir my en sê die kans is goed dat dit ’n donkie sal wees wat hier verbykom. Dit laat my terugverlang na die donkiekarre in Mokopane se strate. Partykeer het hulle soggens voor my nes kom staan en dan het ek gewonder of dit nou my “uber” is wat my werk toe kom vat.

’n Mens kan jou lelik misgis as jy dink dis maklik om jou rigting te vind in ’n klein dorpie. Die dorp se strate loop in driehoeke, kom ek gou agter en dit maak my rigtingbeduiweld. Die eerste keer wat ek vroegaand ’n konsert moet gaan bywoon, verdwaal ek en nadat ek vir die derde keer in Apiesdoringstraat beland, bel ek my buurvrou en sy bied aan om my te begelei tot by die kerksaal. Dit is toe aan die anderkant van die dorp en glad nie moeilik om daar uit te kom nie. Ek voel soos die apie van daardie boomnaamstraat toe ek haar wuiwend bedank. Gelukkig kon ek nog sien hoe die leerders van Academia Private School hul harte op die verhoog uitspeel in die tweede helfde en toe die gordyn toetrek, kon ek ook juig en hande klap.

’n Paar dae later kry ek ’n stewige boete omdat ek iewers die spoedgrens oorskry het so in my soeke daardie aand.

Bela-Bela is ’n mooi naam, sê my sussie oor die foon en wil weet wat beteken dit. Ek span mev. Google in. Sy is seker ’n vrou, want sy weet alles, het my seun eenkeer laggend vir my gesê. Ek lees dit beteken “boiling-boiling” vernoem na die warmwaterbronne en dit maak sin. Hier is ek nou, ’n trotse inwoner van die Sonskyndorp met die warmwater en tree vir tree vind ek my pad in die regte rigting.

Related Articles

Back to top button