Blogs

Hoofartikel: As die donker jou kom haal

Die eerste ding wat ek soggens doen as ek wakker word, is om buite op die stoep te gaan staan.

Ek sien hoe die son sy oranjerooi kop uitsteek en ’n nuwe dag gestalte kry. Dan besef ek hoe moeilik dit ookal met ’n mens kan gaan, die son kom altyd weer op. Dis ’n skoon begin as die lig die donkerte kom wegvee. Die voëls kwetter onbeskaamd en iewers in die verte gaan die wekker van ’n hoenderhaan af.

My gedagtes is egter troebel ná die dood van soveel mense die afgelope twee jaar. Ja, die dood boer deesdae op ons stoep. Kyk net hoeveel mense moes ons groet toe Covid-19 ons in ’n wurggreep beetgehad het.

My buurvrou het haar man binne ’n paar dae verloor, hoor ek kort nadat ek by my nuwe nes intrek. Tyd vir afskeid was daar beswaarlik en die koue, kil begrafnis kom spook steeds by haar. Daar was nie ’n houtjas vir hom nie; soos duisende ander is hy is in ’n plastieksak ter ruste gelê.

Covid het die mensdom gekonfronteer met die dood. Daaglikse statistieke van slagoffers het naderhand net nog ’n nuusbrokkie geword. Ek wil sover gaan om te sê dis asof die dood sedertdien net nog ’n alledaagse affêre geword het.

Hier in Bela-Bela treur die inwoners oor die afsterwe van ’n geliefde sportman. Van Reenen Cloete, ek wou jou nog ontmoet, maar nou moet ek jou sonder daardie voorreg groet. Rus sag en weet jy het baie lewens hier aangeraak.

Maandagoggend was dit die boere van die omgewing wat opgeruk het na Roedtan. In hul bakkies, trokke, trekkers en stropers kom wys hulle vir almal wat wil sien hulle is moeg vir plaasmoorde. Nicky Janse van Rensburg was ’n jongboer wat so twee weke gelede in ’n sinnelose plaasaanval met sy lewe moes boet.

Nie net hier by ons is die hartseer groot nie; die lys van bekendes in die vermaaklikheidsbedryf wat die afgelope twee jaar gesterf het, is onmeetbaar lank. Daar was verlede week die ontydige dood van die aktrise Franci Swanepoel en nou hoor ek gister die akteur Eric Nobbs is ook oorlede.

Dit is nie net Franci wat vanjaar in haar slaap dood is nie. Daar was ook Sharleen Surtie Richards, Kuli Robberts en Aleit Swanepoel. Dit sit ’n mens se kop aan die dink.

Die gordyn het ook gesak vir bekendes soos Theuns Jordaan, Barry Ronge, Elize Cawood, Ben Kruger, Lieb Bester, Clive Scott, Pieter Fourie, June Seymour en Adam Barnard. Voeg daarby Seranti Rheeders, Paul Eilers, Lionel Petersen, Gerhard Schoonhoven, Franz Marx en John Berks. Dis ’n lys sonder end.

Die lewe is inderdaad ’n vreemde gedoente. Op en af en dan tol jy weer in die rondte, om en om. Niks is perfek nie en niks is ’n gegewe nie. Ons sien oral swaarkry en armoede; tog raak ons verlief, trou en kry kinders. Ons het groot planne vir more, al weet ons nie wat die toekoms inhou nie. Ons ontwerp en onwikkel; dan bly natuurwonders soos reën weg en skielik het ons nie water in ons krane of die oeste op die boere se lande is daarmee heen.

Ons gaan saans bed toe sonder dat ons weet of ons môre nog daar gaan wees. Ons stel ons wekkers om ons wakker te maak. Dit noem ’n mens hoop. Mag ons nooit hoop verloor nie en altyd onthou die mens wik, maar God beskik.

Related Articles

Back to top button