Blogs

Oop kaarte: Tannie Marie kyk met heimwee terug

“Jy moet speel tot die eindfluitjie blaas. Hou net aan asemhaal,” sê tannie Marie Booysen hier waar sy gemaklik sit in ’n stoel in die Warmbad Rusoord se biblioteek.

Marie het onlangs 90 kersies op haar verjaardagkoek uitgeblaas en steeds is sy helder van verstand, “soms ’n bietjie ondeund en stuitig”, maar gewis iemand met ’n onblusbare gees. Sy is nie net hier in Bela-Bela al vir baie jare geliefd nie, maar haar aanhang strek veel verder wanneer ’n mens haar Facebookblad onder oë kry.

“Facebook hou my brein skoon en weg van lelike dinge,” sê sy met ’n vonkel in haar eie oë.

Op ’n vraag wat hou haar so jonk vertel sy: “Ek dink nooit aan myself nie en kyk wat ek vir ander kan doen. Ek onthou ná my eerste man, Hannes, se afsterwe in Junie 2015 het ek op ’n blog van ’n bekende tydskrif gelees van ’n boek met die titel: Hallo Lewe. Daarin het gestaan jy het ’n keuse of jy in ’n gwarriegat gaan bly sit of jou rooi lipstiek gaan aansit en hallo sê vir die lewe. Ek het vir die Here gevra om my te gebruik in diens van my medemens. Ek vra niks terug nie,” sê sy nou aangedaan terwyl sy ’n traan wegvee.

Marie het as ’n jong verliefde meisie in die destydse Warmbad saam met haar kêrel en sy ouers kom vakansie hou by die warmbronne.

“Ek was toe in st. 9 in Heilbron in die skool. My kêrel, Hannes Booysen, het onderwys aan die Universiteit van die Vrystaat studeer.” Ná skool het Marie self onderwys gaan studeer en sy en Hannes is getroud nog voor sy klaar was met haar studies. “Ek het my uitslae op ons wittebrood gekry.”

Uit die huwelik is daar later drie kinders gebore, twee dogters en ’n seun. Nes haar man, het Marie haar merk in die onderwys gemaak en ook verder studeer.

“Ons het in verskeie dorpe onderwys gegee en Hannes was voor sy afsterwe in Junie 2015 ’n hoofdirekteur van onderwys en ek tot en met my aftrede ’n departementshoof by ’n skool. In daardie stadium het ons in Springs gewoon.”

’n Oud-vriendskap het tot ’n tweede huwelik gelei met Chris Stander in 2020.

“Chris het egter ’n oogsiekte en het ’n paar jaar gelede sy sig verloor. Hy is goeie geselskap. Ek het nog tot onlangs saam met hom in sy huis in Benoni gewoon, maar toe ek in Oktober verlede jaar siek word en my kragte aan die afneem was, het ek vroeg vanjaar teruggetrek Bela-Bela toe.”

Rusoord en die personeel was ’n veilige hawe en Marie bedank elkeen wat hier haar pad gekruis het.

“Die meetsnoere het egter lieflik vir my in plek geval en ek trek binnekort na Pretoria waar ek en Chris saam gaan nesskrop by ’n aftree-oord.”

Kyk sy terug is daar talle hoogtepunte. Sy het van jongsaf op skool presteer en was aktief betrokke in die gemeenskap; ook as ’n Kansa-vrywilliger.

“Ek doen en gee met ’n goeie hart. My kinders se geboorte is ook koester-herinneringe. As ek my lewe oor kan kry, sal ek alles dieselfde doen, behalwe vir een ding. Ek sal nooit weer skelm rook nie.”

Sy vertel sy het in 1999 haar aansteker en pakkie sigarette met ’n rekkie vasgebind en neergesit. Dit was ná ’n doktersbesoek waar sy moes hoor die rokery is nie goed vir haar gesondheid nie.

Die skelm rokery het tydens die Tweede Wereldoorlog begin toe sy in st 6 was, bieg sy.

“Ons soldate het daar waar hulle in Egipte was, geleer om te rook. Hulle kom dan huis toe en leer die meisies wat hier in die fabrieke bomme gemaak het, om ook te rook. Die meisies het dan weer op hul beurt hul ouers tuis geleer. Ons het in daardie tyd nie geweet dit is skadelik vir jou longe nie. Wanneer iemand hulle stompies byvoorbeeld by ’n venster sou uitgooi, het ek dit opgetel en klaar gerook,” vertel sy met ’n ondeunde glimlag.

Haar raad aan vandag se jong mense is om nie moed op te gee nie.

“Hou aan en lewe voluit. Moenie ophou droom nie. Sorg ook dat jy altyd ’n plan B gereed het vir indien jou dinge nie uitwerk nie.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button