Blogs

Hoofartikel: Stories met musiek

Musiek is ’n universele taal wat ’n mens verstaan sonder om noodwendig die taal te verstaan. Dis die fyn ingestelde instrument (letterlik en figuurlik) wat in die hande van meester storievertellers ons harte en wêrelde oopsluit.

Dink maar aan Die Briels wat die depressiejare se droewige stories vertel het. Ek wonder nou nog wat het met daai meisie gebeur wat een bitterkoue aand die trein na Pretoria moes neem. Intussen het die Grafsteensangers die leisels oorgeneem sodat hierdie stories nie in die vergetelheid verdwyn nie.

Iemand verlang na sy Sarie Marais terwyl ’n ander ene sy Suikerbossie wil hê sodat hulle hand-aan-hand onder deur die maan kan loop – ongeag wat haar (preutse) ma daarvan sal sê.

Iewers is daar ’n jongman wat hoenderkop raak oor ’n meisiekind sonder haar sokkies, want koue voete beteken warm liefde. Ons hoor van iemand wat met oorgawe lewe, gemaak om na liefde te strewe. Dis ’n geluksalige man wat stadig dans met sy Lady in Red terwyl ’n rooirok-bokkie heelaand sokkie.

Nog liedjies vertel van ’n Droomvrou, Sproetjies, Mienkie, Jantjie, Kruidjie-roer-my-nie en tant Koek se hoenderhaan. Daar’s ’n vrou wat weet wat aangaan agter elke man. Ook kabouterliefde en weggaan-liefde want jy is te dierbaar om seer te kry.

Skielik begin ons wonder – maak jy jou oё toe as ons soen? Babe, is jy nog lief vir my? Wie sal kom nagsê?

Ons bring vir die harlekyn nog wyn, want Afrikaners is plesierig. Dis die oumanne wat in die Royal Hotel sit en praat oor die drieё van Blokkies Joubert en Mannetjies Roux.

Ek ken ’n sprokie vir ’n stadskind en ’n ou-ou liedjie van lewenswel en weё, van lank vergane skepe in die kelders van die see. Die vissers van Skipskop ken geslagte lank die groot blou dam se branders. Maar nou moet hulle op pak, met hul goedjies op die kop, om ver weg te trek. Die lewe sou eentonig wees sonder hierdie storievertellers.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button