Blogs

Hoofartikel: Vat jou goed en trek Ferreira, sê nuwe redakteur

“Pak op, pak op, sit jou goedjies op jou kop.” So neurie ek al van verlede Donderdag af as ek my goedjies nader hark en in bokse begin pak.

Die groot trek het begin en ek het al vergeet dat oppak en groet nie die lekkerste ding is om te doen nie. Hartseer om afskeid te neem van Mokopane en sy mense en ook opgewonde om hallo te sê vir al Die Pos se lesers.

Vroegoggend is dit die son wat my wakker maak en ek kyk verby al die chaos hier om my. Tyd vir ’n kortbroek, T-hemp en ooptoonsandale. Lente is in die lug en dit beteken nuwe dinge.

Ek groet die gemeenskap van Bela-Bela met blink oë en ’n groot opgewondenheid. Keina Swart, jy het van die eerste oomblik wat ons kennis gemaak het in my geglo. Dankie dat jy my die geleentheid bied om die koerant na die volgende rat oor te skakel. Ek salueer jou. Jy los diep spore. Nou moet ek nuwe spore vorentoe trap. Dis ’n groot eer.

Joernalistiek is nou eenmaal die beroep wat jou menswees op alle vlakke slyp. Dit bring ook ’n wonderlike wysheid soos die jare aanstap en jy hou nooit op om nuwe goed te leer nie.

Die media bruis in my familie se are. Dit het daar in my ouerhuis begin toe ek en my sus elke dag ná skool kafee toe gestap het om die koerant te koop. As gesin het ons ook saans almal voor die radio of televisie gesit of aan die eetkamertafel menings gelig oor die dag se nuusgebeure.

Nie net is my suster, Sonnette Lombaard, vandag ’n deurwinterde joernalis nie, maar my dogter, Lara, werk as vervaardiger en skrywer in ons land se vermaakbedryf. My seun, Quinton, is deel van die inhoudspan van Wie’s Nuus, ’n aktualiteitsprogram op die kleinkassie. Sy liefde vir joernalistiek het op skool ontstaan terwyl ek redakteur by die Bosveld Review in Mokopane was.

Daarom hoop ek ook dat ek hier by Die Pos ’n volgende generasie joernaliste kan inspireer en leer.

My loopbaan het afgeskop in die mees opwindendste tyd waarvoor enige joernalis kan vra. Die oorgang na demokrasie het my by tonele geplaas waar bomme ontplof het of by betogings in ons land se hoofstede en ook by politiek gemotiveerde hofsake soos die Sharpeville Ses en die Wit Wolf (Barend Strydom) se verhore.

’n Ervaring wat ek nie sal vergeet nie, was ’n besoek aan die maksimum C-gevangenis in Pretoria. Daar het ek onderhoude gevoer met gevangenes wat ter doodveroordeel was of lewenslange tronkstraf uitgedien het. Dan was daar ook die voorreg om biskop Desmond Tutu se begrafnis te kon waarneem in die St. Georges-katedraal in Kaapstad. Meer onlangs het ek vanuit Bloemfontein berig oor oudpres. Jacob Zuma se appélsaak.

Ek koester goue herinneringe soos ’n vliegrit saam met die Lugmag na die Noordpool en vele ander reise. Onderhoude met bekendes sluit in pres. Cyril Ramaphosa, FW de Klerk en ander politici, kerkleiers, sport- en vermaaklikheidsterre.

Hier in die Bosveld onthou ek die oggend wat ek saam met ’n soekgeselskap ’n renoster wat ontsnap het, gaan soek en gevind het. Hoewel daar ook talle protesoptogte oor korrupsie was en rubberkoëls waarvoor ek moes koes, is dit Jan Allerman-stories en al die lief en leed van die plattelandse gemeenskap wat my hartsnare roer.

Oud, jonk, bekend of gewoon, arm of ryk — maak nie saak wie of wat jy is nie — Die Pos is steeds jou nommer een bron vir alles wat jy moet weet in jou gemeenskap.

Ek nooi jou uit om te kom kennis maak. Kom loer in vir ’n koppie koffie of kom groet daar waar ek by ’n gesellighed of geleentheid is. Ek vat graag hande met al ons lesers en kliënte.

Related Articles

Back to top button