BlogsOpinion

Hoofartikel: Lewe in die tyd van beurtkrag

Beurtkrag is vir almal ’n doring in die vlees.

Niemand kan meer op die ingewing van die oomblik vriende of familie oornooi vir ete nie, want alles moet haarfyn rondom die (immerveranderende) beurtkragskedule beplan word. ’n Vinnige koffie-afspraak word skielik ’n louwarm koeldrankafspraak. Vergeet maar van tradisionele disse soos beesstert en lamskenkels, want daar is nêrens ’n ses tot agt ure tydgleuf met krag om die vleis murgsag te kry nie.

Tydens die laaste naelbytminute van ’n rugbywedstryd tussen die Pumas en die Westelike Provinsie was die hele veld skielik pikdonker. “eeee. loadsheddiiiiiiiing!” het die twee kommentators gelyktydig uitgeroep.

Die verkeersvloei in die stede ontaard in ’n uitmergelende marathon waar dit voel asof motors agteruit kruip. Mense kom laat by die skool en werk aan. Frustrasie loop hoog en gebalde vuiste en handgebare vlieg lustig rond.

Op die platteland is ons wel geseën met weinig verkeersknope. Daar is dalk nou 12 motors wat staan en wag by die dooie verkeerslig pleks van die verwagte drie motors. Dus word reistyd met twee minute verleng.

Vroue se haarstyle het ook deurgeloop en die nuutste neiging is natuurlike style, want haardroërs en ander haarstileringstoebehore benodig almal elektrisiteit.

En moenie dink jy gaan in die bad lê en ontspan terwyl jy wag nie, want daar is nie ’n druppel (warm) water in die krane tydens beurtkrag nie.

Kantoorwerkers skarrel koorsagtig om vinnig hul werk op die rekenaar te stoor voordat die krag afgaan en al hul werk ongedaan is. Rekenaars, drukkers en fotokopieërders raak nukkerig weens die onderbroke kragvoorsiening.

Die tien minute voordat beurtkrag inskop is ’n miernes van bedrywighede. Verwarmers, ligte, toerusting en enigiets wat iewers ingeprop is, word afgeskakel. Almal skarrel vir flitse en batteryliggies.

Daar word vinnig genael om gou die ketel te kook. Almal voel magteloos. Almal voel kragteloos.

Maar beurtkrag bring ons weer terug na toeka se dae van kerslig, kaggels wat brand en paraffienlampe. Ouma se handgemaakte verekombers word uit die spaarkamer se opgaarkas gesnuffel.

Ons ontdek weer die doeltreffende en direkte hitte van ’n warmwatersak en wonder hoekom ons ooit iets anders begin gebruik het.

Vir die ywerige kampeerders onder ons is dit heerlik om hul gasbottels en gasstofies af te stof sodat hul kampkos by die huis kan maak. Kop-lampe en sonkragliggies staan orals in die huis en daar is ’n flitslig op elke bedkassie.

Braaivleisvure brand lustig in die middel van die werkweek terwyl die gedreun van kragopwekkers die bure se keffende honde en ander geraas uitdoof.

Saans ná aandete word bordspeletjies en kaarte uitgepak pleks daarvan om televisie te kyk. Selfone word eenkant geskuif, want daar is in elk geval nie internet sein wanneer die krag af is nie.

In Modimolle kan ’n mens saans, wanneer dit stil is, die jakkalse in die rante hoor roep. Selfs die maan en sterre lyk helderder wanneer straatligte uitgedoof is.

Beurtkrag het weer waardering gebring.

Related Articles

Back to top button