BlogsOpinion

Hoofartikel: Om maskerloos die toekoms te betree

En so breek die dag aan dat ons ná twee jaar weer ons maskers kan afhaal.

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, kondig in die nagtelike ure van Donderdag 23 Junie aan dat die Covid-19-regulasies opgehef is.

Mense wat verwag het dat dit ’n legendariese en feestelike aankondiging sou wees, moes tevrede wees met iets wat kaplaks uit die lug geval en almal onkant getref het.

Ek was in die bad toe die aankondiging gemaak is. Ek het besluit dit moet gevier word en het my musiek bo die gewone aanvaarbare volume gedraai en vrolik saamgesing, maar kort voor die werkdag sou begin, het ’n gevoel van hartseer my oorval.

Dit was twee jaar — 817 dae om presies te wees — dat die Covid-19-pandemie ons lewens bestuur het.

As joernalis het ek by herhaling geskryf oor bekende inwoners en geliefdes wat nie die virus oorleef het nie. Die ekonomie is aan flarde geruk en swaarkry het in ons midde kom lê. Ek self is twee keer met die virus gediagnoseer en blootgestel aan ernstige mediese komplikasies. Ek het telkemale gewonder: Gaan ek deel van die statistiek wees? Ek is dan nog so jonk?

Die media, wat tydens die streng inperkings as ’n noodsaaklike diens verklaar is, het nie ongeskonde gebly nie. Groot publikasies en tydskrifte het nie die inperking oorleef nie.
In ons beskermde werksomgewing het ons ook druk gevoel van salarisse wat noodgedwonge verminder het, maar die wete dat ons deel van ’n span is wat hierdie krisis gaan oorleef, het ons laat voortstu.

Mettertyd het ons met nuwe planne en ’n onblusbare drang na oorlewing weer ons lewens hervat. Die ondervinding het ons net ’n bietjie meer skepties gelaat.

Die pad na ekonomiese herstel is moeilik met die inflasiekoers wat bly styg, voedselpryse wat ongekende hoogtes bereik het. Om nie eens van brandstofpryse te praat nie.

Ons skep nogtans moed, want selfs met hierdie donker prentjie, sal dit beter wees as 817 dae gelede. Menswees sal die skaal laat swaai. Die omgee en meelewing van my medemens het ’n groter faktor geword. Mense het meer begrip vir mekaar, want almal het hulself in die storm bevind.

Ek hoop dat mense in die toekoms hul sake met wysheid sal bestuur en hul families en vriende wat kosbaar is, sal koester. Ek hoop mense sal gesprekke voer om ’n toekoms tot almal se voordeel te bewerkstellig.

Haal asem. Ons hoef nie meer maskers te dra nie.

Related Articles

Back to top button