BlogsOpinion

Hoofartikel: Wat is in ’n naam?

So ’n paar jaar gelede help ek en my sussie my ma om haar groot huis op te ruim.

“Hierdie moet na jou toe,” sê my ma en hou die stukkende pop na my toe uit. My ma se oë is dof van onthou. Die pop se oë is dof van ontbering.

Nie een van ons sê juis iets nie. Ons staar na die pop en mik tussen die onthou-kratte, die weggee-kratte en die weggooi-sakke.

“Gee vir my,” sê ek en sit haar porseleinkop in my onthou-krat. Haar verinneweerde laplyf gaan in die weggooi-sak.

Vir so lank as wat ek kan onthou, het ek hierdie pop gehad. Al ons vriende en familie het haar by die naam geken. Die mees eksotiese naam wat ek op vier kon uitdink.

Aanvanklik het sy ’n stukkie rooi filt met twee spierwit voortande gehad. Ongelukkig het ek haar — teen alle raad in — gereeld gevoer. Die spulletjie het vrot geword en ’n gapende opening gelaat.

Sy het regte babaklere gedra — ’n wit frokkie en ’n babygrow. En sedert die aand toe ek amper ons huis afgebrand het, ook ’n wit Voortrekker-kappie.

Die een kant van haar kop het verbrand toe sy uit my bed geval en bo-op die gloeilamp in die kartonboks met my hanskuikens beland het. Ek het wakker geword van die reuk van iets wat smeul. Almal het geskree en rondgehardloop. My pop was aan die brand. En my hart was stukkend.

En nou — jare later — ruim ek my eie groot huis op om te trek. Ek het onthou-kratte, weggee-kratte en weggooi-sakke.

“Wat is hierdie? Eeeeeuuw!” skree ’n kind en hou my popkop vir almal om te spot. Hulle jaag mekaar deur die huis en neem foto’s waarmee hulle hul vriende vermaak. Hulle klop aan deure en steek haar kop om die hoek om mekaar die skrik op die lyf te jaag; om mekaar uit te freak.

“Gee vir my,” sê ek later en sit haar in my onthou-krat saam met ’n stapeltjie gehawende kinderboeke.

My kinders weet nie hoe dit voel om op ses alleen koshuis toe moet gaan in ’n ver-van-die-plaas-dorp nie. Hulle weet nie hoe dit is om in een jaar in drie verskillende skole te wees nie. Hulle weet nie hoe dit is om om met vuil voete en ’n pop op die skoot in ’n mobiele biblioteekbus te sit en droom oor die woorde wat jy in vertaalde kinderboeke sien nie: Woorde soos troebadoer.

Nagtegaal. Bengaalse tier. Sneeu. Koffer. Reis. Mantel. Keiser. Woorde wat beloof: Die wêreld is groter as hier waar ek nou is.

Ek het die grootste deel van my kinderjare in godverlate stofplekkies in Limpopo gewoon.

Maar my pop; my pop se naam was Amerika.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button