BlogsOpinion

Hoofartikel: Draai terug na die Lig

In talle huise beteken die aanvang van die winter dit is weer eksamentyd.

Ouers sit angstig, en soms moedeloos, tot laataand om hoёrskoolkinders te help met moeilike begrippe, definisies, beginsels, feite en hipoteses.

Tussen past, present en future continuous tenses raak dinge maar krapperig tussen die ma’s en hul spruite.

En dan praat ons nie eens van wiskunde nie. Daar is diegene wat gemaklik omgaan met die abstrakte konsepte van meetkunde, trigonometrie, algebra, calculus en XY-vergelykings.

Dan is daar diegene wat in angssweet uitslaan soos die syfers en simbole voor hul oë begin swem op die bladsy. Vir hulle is dit die stoffasie van rillernagmerries en hel op aarde.

Wetenskap en biologie, wat intussen hernoem is na fisiese- en lewenswetenskap, is ook ’n opdraande stryd vir talle ouers.

So sit ek een aand en probeer my dogter in gr.5 help met voorbereiding vir haar Social Science-eksamen waar hulle leer van saadjies wat ontkiem, blare, fotosintese en nog ’n klomp volksvreemde (Engelse) wetenskaplike woorde wat ek nog nooit gehoor het nie of al lankal vergeet het. Daar is cotyledons, radicle, plumule, hypocotyl en epicotyl om net ’n paar te noem.

Een van die vreemde woorde is phototropism/ fototropisme. Volgens hul handleiding beskryf dit ’n plant se vermoë om te heroriënteer en in die rigting van die ligbron, hetsy die son of elektriese lig, te groei. Plante gebruik lig, water en koolstofdioksied om die produksie van energie te stimuleer sodat die plant kan groei en ook suurstof kan vrystel. As daar nie lig is nie, kan die plant dus nie groei nie.

Net daar kry ek ’n skitterblink gloeilamp-oomblik! Is dit nie die kern van die Goeie Boodskap nie? Draai na die Lig; die bron van lewe.

Dit klink so maklik, maar ons sukkel om voor die spieël weg te kom — so gefokus op onsself, ons probleme, uitdagings, doelwitte, gerief en plesier. Wederhelftes, kinders, familie, vriende en kollegas verlang ook tyd en aandag. Daar is soveel eise, verpligtings en verwagtings wat ons daagliks pootjie.

Maar al raak ons soms die pad byster of dwaal ons rigtingloos rond — draai terug na die Lig. Net soos plante kan heroriënteer om in die rigting van die bron van lig te groei, kan ons ook groei na die ewige Lig.

Related Articles

Back to top button