BlogsOpinion

Hoofartikel: Aanlynliefde se wolwe en jakkalse

Die aanlynvermaaklikheidsbedryf het behoorlik tydens die Covid-19-grendeltydperk ontplof.

Skielik het almal bondels ekstra data aangeskaf sodat daar (dag en nag) na flieks en reekse op Netflix, Showmax, Apple TV, BritBox en Amazon Prime Video gekyk kon word. Selfs YouTube en soortgelyke platforms het gegons soos mense snaakse video’s en ’n wêreldwye verskeidenheid musiek afgelaai het.

Daarmee saam het die aanlynliefde-industrie ook ongekende groei ervaar, want die oersoeke na ’n lewensmaat het nou ’n aanlyn-affêre geword.

Maar alles is nie pluis in die kuberruim se kletskamers, sosiale media platforms en aanlyn-afspraak webtuistes nie. Pandora se legendariese boks is oopgemaak en nou sluip daar wolwe in skaapsklere en uitgeslape jakkalse rond wat hul niksvermoedende prooi verslind.

Daar is talle flieks wat die gevare en slaggate van aanlynliefde uitwys. Gaan kyk gerus na The Tinder Swindler, Bad Match, Good on paper, Inventing Anna en Bad Vegan — om net ’n paar te noem.

Hierdie rillerverhale wys vroue wat halsoorkop verlief raak op die “perfekte” man — aantreklik, atleties gebou, stylvol aangetrek, skatryk en kwistig met die heuningkwas. Liefde is mos blind, of hoe?

Uit die bloute kom daar dan ’n versoek vir finansiële hulp met een of ander wolhaarstorie oor die bedrogspul by die familie-onderneming en nou is sy bankrekening glo gevries. Nog een vertel dat hy voor die mafia moet vlug en uit vrees vir sy lewe, moet Poppie dadelik help en ’n stewige bedrag oorbetaal. Sonder uitsondering val die vroue elke keer daarvoor, “want hy is dan so lief vir my!”

Word wakker Poppie en ruik die beesmis!

Gewetenlose swendelaars, bedrieërs en manipuleerders het ’n uiters winsgewende wenresep ontwikkel om meer as een vrou in hul kubervangnet te verstrengel. Hoekom sal hulle nou in die son wil gaan werk om ’n eerlike bestaan te maak?

Ongelukkig ontglip baie van hierdie skarminkels ook die lang arm van die gereg omdat hul prooi die geld gewillig gegee het. Sommiges het selfs enorme skuld aangegaan in die proses, maar kan dit nie as diefstal of bedrog by die owerhede aanmeld nie, want dit is haar woord teen syne.

Kuber-waghonde waarsku dat ’n mens geen persoonlike inligting soos jou adres, tuisdorp of werkgewer moet verskaf voordat jy nie die ander persoon baie beter ken nie. Vertrou jou instink — as iets te goed klink om waar te wees, is dit waarskynlik. Vra gerus ook ’n nabye familielid of vriend vir ’n tweede mening voordat dinge te ver vorder, want dalk het jy te doen met ’n uitgeslape jakkals of ’n wolf in skaapsklere.

Related Articles

Back to top button