BlogsOpinion

Hoofartikel: Liefde is in ’n toebroodjie

Die eise van moederskap hou nooit op nie.

Tussen die kinders se skool en sport bedrywighede, manlief, troeteldiere, werk, familie, vriende, kerk, finansies en die algemene huishouding is dit soms moeilik om al die balle in die lug te hou.

Oraloor moet moeders, werkend, enkel, geskei of afgetree, daagliks sorg dat almal in die huis kos kry. Mammas met skoolgaande kinders se kosblikke word met sorg gepak elke dag.

Super-ma se kinders kry tuisgemaakte energiestafies en biltonghappies, droëvrugte of neute met vrugteslaai en ’n spesiale waterbottel wat die water daglank yskoud hou.

Gesondheidsbewuste mammas pak ryskoekies, groentestokkies, glutenvrye, suikervrye koekies en organiese vrugte in hul kinders se kospakkies.

Bobaaskok-mammas bak vroeg-oggend kookwater-vetkoekies met soet- en sout vulsels of heerlike minisouttertjies met die vorige aand se oorskiet hoender of maalvleis.

Haastige mammas pak kaastoebroodjies, ’n bakkie joghurt en ’n vrug (appel/piesang/lemoen) met ’n groot bottel water in.

Die “ek het alweer vergeet om brood te koop” mammas stop vir elke kind ’n geldjie in die hand sodat hulle ’n geroosterde toebroodjie by die skool se snoepie kan koop.

Vir hoërskoolseuns, wat mos hol is tot in hul hakskene, moet daar minstens drie toebroodjies, ’n groot pak Simba-skyfies, ’n bottel water en boonop ’n bottel koeldrank ingepak word terwyl sommige hoërskoolmeisies eerder gestoomde hoenderslaai (sonder slaaisous) met wortel- en komkommerstokkies verkies.

In sommige bedrywige huishoudings moet die kinders self toesien dat hul kosblikke soggens voor skool gereed is.

Maar dan op ’n dag verslaap die ma van die huis! Sy skrik ’n halfuur voor die skoolklok gaan lui wakker en vlieg vervaard gang-af. Stom van verbasing sien sy die kind van die huis is reeds aangetrek, klaar ontbytpap geëet, skooltas en kosblik gepak — hierdie ma moet net vinnig ’n poniestert maak.

In die vyf minute op pad skool toe (dankie tog vir die gebrek aan verkeer op die platteland) prys sy die kind vir haar selfstandigheid en doelgerigdheid op dié deurmekaar oggend. Met drie minute grasie stop hulle betyds voor die skoolhek. Voor die ma ’n soen op die amper-tiener se wang plak, sê die kind met ’n sonskynglimlag: “Ek het vir mamma ook ’n toebroodjie gemaak vir werk, helfte kaas en helfte sjokoladesmeer.”

En net daar besef hierdie mamma met ’n knop in die keel — liefde is in ’n toebroodjie.

Related Articles

Back to top button