BlogsOpinion

Hoofartikel: Wat verklap jou boekrak?

Ons familie se grootste erfsonde is boeke.

Dikkes en dunnes, nuut en tweedehands, spoggerig of doodgewoon, voosgevat en vasgeplak.

Alles word voor die voet verslind. Daar is boekrakke vol plaaslike skrywers, maar ook interessante internasionale skrywers.

Sommige boeke het ritse toekennings; ander is onbekend, maar net so geliefd. Ek kan op my twee hande tel hoeveel boeke ek al deur die jare nie klaar gelees het nie.

Gewoonlik is ek ’n bittereinder wat moet weet hoe die komplot ontknoop. Dalk het dit te make met my respek en bewondering vir enigiemand wat iets oorspronkliks kon uitdink, op papier neersit en uiteindelik kon publiseer.

Miskien bly ek die ewige optimis wat met elke omblaai van ’n bladsy hoop dat die storie nou uiteindelik gaan begin sin maak of dat die taalgebruik iewers sal verbeter.

Boeke word gereeld by tweedehandseboekwinkels — van Pretoria tot Haenertsburg — gekoop.

My gunstelingtydverdryf in hierdie winkels is om boeke te soek met persoonlike boodskappe voorin: “Aan my geliefde seun met jou verjaardag, 1953.”

My verbeelding gaan op loop oor die lewensverhaal van hierdie seun en ek wonder hoe hierdie kosbare boek dekades later in ’n tweedehandseboekwinkel beland het.

Hoewel Mills & Boon-boeke nooit vir enige literêre pryse in aanmerking sal kom nie en “ordentlike” boekwurms nooit daaroor praat nie, wéét ons almal het al sulke boeke met koorsagtige gretigheid geniet.

My ma se familie het ’n merkwaardige versameling klassieke Louis L’Amour- en Zane Grey Cowboy-boeke wat die afgelope vyf dekades oor en weer geleen en uitgeruil is.

En behoed jou as jy gevang word waar jy skelmpies saamlees omdat jy nie jou beurt kan afwag nie.

Boemelaars word sluipslapers genoem; so dalk is diesulkes sluiplesers? Die gewildheid van die “rom-com”-genre het baie toegeneem.

Wat is nou lekkerder as om te vergeet van die wêreld se probleme en jou te verkneukel in die gelaaide komiese kwinkslae tussen die held en heldin?

Historiese romans laat ’n mens glo die lewe was “lank, lank gelede” eenvoudiger en beter — sonder sosiale media, televisie en tegnologie.

Ander boekwurms verslind grieselrige rillers en moordstories wat die nekhare laat rys. Fantasie en wetenskapfiksie trek sommige lesers soos ’n mot na ’n kers terwyl ander hulself verloor in speurverhale, avonture en reisverhale.

Wanneer ek by vriende of kennisse se huise gaan kuier, maak ek ’n punt daarvan om te kyk watter geheime hul boekrakke inhou.

Daar word geglo dat die inhoud van jou boekrak baie meer oor jou karakter verklap as wat jy dink. So, wat is in jou boekrak?

Related Articles

Back to top button