BlogsOpinion

Hoofartikel: Die huis is waar die hart is

“Mamma, ek verjaar vandag. Ek is 51 jaar oud vandag,” sê ek vir my 81-jarige ma.

Sy kyk vir my, maar sy is nie bly oor my verjaarsdag nie. Sy is moeg. Sy sê dit is nie meer lank nie. Sy sê sy wil huis toe gaan.

Ek is nie seker wat sy met “huis toe” bedoel nie, maar ek dink nie sy praat van haar woonhuis nie.

Dit is week vier in die intensiewesorgeenheid. Week vyf in die hospitaal.

Ek maak ’n speellys en my sussie sit oorfone in ons ma se ore.

Ons probeer kyk of sy Neil Diamond se September Morn’ herken. Julie Andrews se The Lonely Goatherd. Die Oorwinningslied. Madonna se Don’t Cry for Me Argentina. Bryan Adams en Luciano Pavarotti se O’ Sole Mio. Rocco de Villiers se Liewe Hemel, Liewe Aarde. Anneli van Rooyen en Karen Zoid se Ek lewe. Crocodile Harris se Give Me The Good News. Flower of Scotland. Anton Goosen se Silver de Lange. Gé Korsten se Liefling. Terry Jacks se Seasons in the Sun. Amanda Strydom se Pelgrimslied.

Toe George Linde van die Kokanje-aftreeoord, waar my ma woon, vir haar Nader my God in die oorfoon sing, loop daar ’n traan uit haar oog. Ons skep moed. Sy hóór. Sy verstaan.

Ons vertel vir haar allerhande storietjies. Ons sê al die name op van die mense wat vir haar groete stuur: Marcia, Brenda, Marie, Janie, Mona, Liz, Yvonne, Ina, Trevor, Liza, Hester, Trienie, Linda, Rhoda, Dora, Cielie. Ek skep asem en ryg nog name uit.

Ons wys vir haar die boodskappe wat die versorgers van Kokanje aanstuur. Hulle stuur foto’s van haar leë kamer; haar bed met die blou hasie op die kussing.

Hulle sê hulle wag vir haar; sy moet nou net gesond word. Hulle sê hulle mis haar kwinkslae. Dit lyk asof sy glimlag.

Ons deel die goeie nuus van haar gesteelde kar wat ná bykans twee jaar teruggevind is terwyl sy in die hospitaal was. Sy frons.

Ons speel boodskappe van haar kleinkinders en sy knik.

Op die eerste keer dag dat ek en my sussie sáám by haar mag ingaan, voer ons my ma lepeltjies sop en appelsap. Ons smeer haar voete met handeroom. Ons hou vars rose by haar neus en sy asem diep in.

Ek gee vir haar ’n suigstokkie en skrik as sy hom só hard suig dat ek hom nie uitgetrek kry nie.

“Ek gaan vasbyt,” sê my ma. “Dis die mooiste woorde wat ek in ses weke gehoor het,” sê ek vir my sussie op die hospitaal se stoepie waar ons wegneemkoffie drink.

One Day at a time, Sweet Jesus.

En dié week — ná 45 dae in die hospitaal — laai ons haar versigtig in die motor en ry met haar Kokanje toe. Háár Kokanje.

Waar sagte hande haar in haar bed tel. Die bed met tannie Lonka se blokkieskombers oor. Die kamer met die uitsig op die tuintjie. Versorgers met sagte oë en omgeehande. Vriende wat nie kan wag om te kom kuier nie.

“Ek wil nog iets beteken,” sê my ma. “Ek wil nog iewers ’n verskil maak.”

Related Articles

Back to top button