BlogsOpinion

Brief: Fokus meer op werksopleiding as op slegs akademie in skole, vra ouer

Is dit nie tyd dat ons met ’n oop gemoed kyk na voorberoepskole wat tans uitsluitlik daar is vir leerders wat nie die akademie van hoofstroomskole kan volhou of bybring nie?

Denise Edwards, Bela-Bela, skryf:

Die laaste tyd wonder ek baie oor die doeltreffendheid van ons skoolstelsel in vergelyking met toe ons op skool was.

Uit my eie ervaring is die kennis wat ek op skool geleer het nie noodwendig alles uit ’n handboek nie. Die vakke wat ek op skool gehad het, het bygedra tot my opvoeding, maar dit is my keusevak, die aanleer van ’n derde taal, wat my vandag nog handig te pas kom.

Ons kinders word toegegooi onder akademie.

Ná 12 jaar op skool is boekekennis al wat hulle kan wys en van dié boekekennis word min werklik in hul loopbane gebruik.

Ons huil oor die hoe werkloosheidsyfer wat deur die Covid-19-pandemie aangeblaas is, maar wanneer laas het jy mooi gekyk na die advertensies vir vakante betrekkings?

In die meeste gevalle vra die werkgewer vir minstens twee jaar ondervinding. Waar moet ’n skoolverlater of afgestudeerde student daardie ondervinding kry? Hy of sy sit met die boekekennis, maar geen ondervinding.

Is dit nie tyd dat ons met ’n oop gemoed kyk na voorberoepskole wat tans uitsluitlik daar is vir leerders wat nie die akademie van hoofstroomskole kan volhou of bybring nie?

Hierdie leerders het een groot voordeel wanneer hul klaarmaak met skool: Hulle het nie net ’n basiese akademiese opvoeding agter hul naam nie, maar ook werksopleiding.

En tog word baie van hierdie leerders se aansoeke afgekeur, want hulle kom uit ’n “spesiale skool” en word gevolglik as “dom” (o, hoe haat ek hierdie woord!) beskou.

Die teendeel is waar. Hulle is in die meeste gevalle hoogs intelligent met IK’s gelykstaande, en soms hoër, as hul eweknieë in hoofstroomskole, maar omdat hulle nie akademies kan presteer nie, word hulle uitgestoot.

Is dit nie dalk tyd om ons hoofstroomskole só te herstruktureer dat die akademie so ’n bietjie afgeskaal word en werksopleiding ingebring word nie?

Die departement van onderwys praat al vir soveel jare van inklusiewe onderrig vir alle leerders.

Na my mening is dit die enigste manier hoe hulle ooit behoorlike inklusiwiteit sal kan behaal.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button