BlogsOpinion

Hoofartikel: Kom laat ons skree

Fluister bring ’n mens nêrens in die lewe nie, reken iemand wat ek ken: jy moet deesdae skree om gehoor te word.

Die situasie verbeter nie.

Die studente moes al almal begin klasdraf het, voel die betalende ouers.

Die ekonomie moes al verbeter het, voel die sakelui.

Die noodtoestand moes al opgehef gewees het, voel die belastingbetalers.

Die lyfwegstekende staatsamptenare moes al afgedank gewees het, voel almal (behalwe die lyfwegstekende staatsamptenare en hul gesinne self).

Die alewige gewag kry mense onder: in die dokters se spreekkamers, vir die ambagsmanne wat iets by die huis moet kom herstel of vir die persoon wat beloof het hulle “kom terug na jou toe”.

Ook vir die ry by die lisensiekantoor om te vorder. Of die skuldenaar se beloofde bedrag “wat beslis môre in jou rekening sal wys”.

Of die munisipaliteit wat die rioolpyp voor ’n sakeonderneming moet herstel.

Of binnelandse sake wat laat weet die paspoort of ID-dokument is “still processing”.

Foto: istock

Só kan dit nie aanhou nie, voel ’n mens dikwels. Die draaipunt kom nie. Opregte omgee het by die deur uitgewaai.

Dit maak jou keelvol. Moedeloos. Moedverlore. Woedend. Sommer lus om iemand te beledig, aan te gee of te beswadder. En ongelukkig is dit so dat ’n mens dikwels eers gehoor word wanneer jy skree.

Asof niemand meer al sagpratende vooruit kan gaan nie. Asof “nee” of “stoppit” of “doen jou plig” net gehoor word as dit geskree word. En skree is tog so ’n lelike ding om te aanskou: luid en ongeskik en dreigend en buite beheer.

Daar is min dinge so erg vir ’n gebore fluisteraar as om gedwing te word om ’n skreeuer te word.

Fluisteraars voel nie noodwendig beter as hulle iets bereik het danksy ’n geskree nie.

Hulle hou nie van rooi gesigte, polsende are langs die kop en mense wat staar nie.

Hulle hou van goedbewoorde briewe, mooi vra, asseblief en dankie sê. Hulle hoop eintlik dat alles vanself sal regkom.

Dat die ry onverklaarbaar flink sal vorder, dat die paspoort wonder bo wonder môre sal aankom en dat die beloofde geldjie werklik (weer) môre in die rekening sal wys.

Maar deesdae voel dit soms vir my asof die fluitersraars se oë al hoe dowwer word en hulle al hoe verder terug- skuif in die ry, terwyl die skreeuers voor indruk en vinnig gehelp word. Fluisteraars verenig.

Kom laat ons skree.

Related Articles

Back to top button