BlogsOpinion

Hoofartikel: Valentynsliefde begin blom

Die soeke na liefde en ’n lewensmaat het gedurende die Covid-19-grendeltyd ’n aanlynaffêre geword met nuwe reëls en heelwat uitdagings met tegnologie in die kuberruim.

Met Valentynsdag om die draai is dit tyd om planne te beraam om jou aanlynliefde te bederf en ekstra spesiaal te laat voel — al woon julle in verskillende provinsies (of lande).

Die gewildste (en duurste) keuse is ’n pragtige bos bloedrooi rose of ander helderkleurige blomme wat aanlyn bestel kan word en by jou geliefde se voordeur afgelewer word.

Knyp maar die oë toe, want veral rooi rose se prys skiet die hoogte in rondom Valentynsdag.

Maak ook seker dit word vroegtydig bestel, want die gewildste blomme word eerste opgeraap.

Dieselfde aanlynbloemistediens bied ook sjokolade en ander skattige geskenke wat apart of saam met die blomme afgelewer kan word. Vir die manne is daar smullekker biltonggeskenkmandjies en ander lekkernye.

Aanlyndrankwinkels kan ’n kis van jou geliefde se gunsteling Chardonnay of Pinotage, vonkelwyn of soetwyn by die huis aflewer.

Ander kreatiewe geskenkidees, wat alles aanlyn bestel kan word, is boeke, klere, skoene, elektroniese ware, kombuistoestelle, kampeer- en sporttoerusting, gesondheidsprodukte, skryfbehoeftes, speletjies en soveel meer.

’n Paar hartjiepantoffels is die ideale geskenk om jou liefie se voete elke dag snoesig warm te hou terwyl ’n bloedrooi T-hemp met ’n oulike slagspreuk sy hart sal laat warmer klop.

Verras jou geliefde met ’n digitale kaartjie met jul gunstelingliedjie wat in die agtergrond speel terwyl foto’s van spesiale oomblikke verbyflits.

Laai gerus een van die gratis aanlyntoepassings op jou slimfoon of vra ’n beterweterige tiener om te help.

Virtuele afsprake is ook moontlik met behulp van Skype, WhatsApp video call, Zoom en dergelike programme wat op ’n slimfoon of skootrekenaar afgelaai word.

Spreek ’n tyd af met jou geliefde vir ’n virtuele kersligete of geniet saam ’n skemerdrankie terwyl julle die sonsondergang geniet.

Die uitdaging is ’n bietjie groter vir geliefdes wat op verskillende kontinente en tydsones woon, want terwyl die son in Suid-Afrika sak, is dit douvoordag aan die ooskus van Australië.

Miskien kan julle op dieselfde tyd ’n romantiese fliek kyk en daarna telefonies gesels daaroor, mits die een nie tydens die fliek aan die slaap raak nie …

Dit is nie nodig om groot bedrae geld uit te gee om jou aanlynliefde se Valentynsdag op te helder nie.

Wees net jou vindingryke, unieke self.

Jy kan natuurlik ook aanlyn gaan snuffel vir nog kreatiewe idees.

Related Articles

Back to top button