BlogsOpinion

Hoofartikel: Kan inwoners wetteloosheid hokslaan?

Dit voel deesdae asof algemene wetteloosheid aan die orde van die dag is.

Orals waar ’n mens kyk sien jy die agteruitgang van dorpe, strate en sakesentrums.

Parkies en oop erwe word nou rommelhope omdat sekere inwoners nie twee keer dink om hul gemors daar te stort nie.

Selfs tuinvullis en bourommel word op enige plek afgelaai sonder ’n gedagte aan die omgewing, natuurlewe of ander inwoners in die gemeenskap.

Die afgelope naweek het inwoners van Modimolle op ’n groot hoop verkiesingsplakkate afgekom wat in wyk 12 afgehaal en net so in die oop veld langs die gholflandgoed se grensdraad gegooi is.

Tientalle pakkies kondome van die departement van gesondheid is ook daar in die veld gestort.

Spoedkameras wat skielik oral soos paddastoele opskiet en motorryers met tot R750 beboet, maak inwoners warm onder die kraag.

Hoeveel motorongelukke word veroorsaak deur onverskillige bestuurders wat padtekens en sperstrepe op gevaarlike plekke ignoreer en verbysteek?

Waar is die verkeersbeamptes om wet en orde in die hoofstrate en deurpaaie te handhaaf? Of is dit net bloot geriefliker om almal wat 70 km per uur in ’n 60 km-sone ry, te beboet?

Sypaadjies word oral in Modimolle se hoofstraat as parkeerplek en werkplek gebruik. Straatsmouse se informele winkels word op enige plek opgerig.

Minibustaxis stop enkele meters van die geen-stilhou-padtekens om mense op- en af te laai. Stoptekens word blatant geïgnoreer.

Onwettige krag- en wateraansluitings is volop, want die munisipaliteit tree nie op teen die skuldiges nie. Krane en koppelstukke word selfs in die Modimolle-begraafplaas gesteel sodat die water maande lank straat-af loop.

Onwettige rioolafvoerpype loop tot in die rivierbedding en inwoners is raadop met rou riool wat bykans weekliks deur hul erwe loop. Hulle klagtes by die plaaslike owerheid val ná jare steeds op dowe ore.

Wetsgehoorsame burgers, wat voorheen nooit sou oorweeg om sonder ’n geldige bestuurslisensie agter die stuur in te klim nie, vat nou kanse omdat hulle al maande sukkel met die hernuwing van hul lisensies weens die gebrekkige diens by lisensiekantore.

Daar is nog honderde voorbeelde van wetteloosheid, maar iewers moet ’n mens tog halt roep. Iewers moet inwoners besluit om saam te staan sodat wetteloosheid nie die oorhand kry nie.

As almal besluit om doelbewus “die regte ding te doen”, kan ons met elke tree in die regte rigting vooruit beweeg.

Elke druppel maak op die ou einde die emmer vol sodat almal kan water drink.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button