BlogsOpinion

Hoofartikel: Daar’s ’n nuwe generasie

“Ek gaan nie stem nie. Ek gaan net by die huis bly,” sê ’n vrou met moedelose oë die afgelope week vir my.

“Ek het in 1994 vir die eerste keer in my lewe gestem. Niks het verander nie. Ek stem nie weer nie.”

Ek probeer haar oortuig dat ’n mens nie mag kla as jy nie stem nie, maar ek praat teen die wind. Ek los dit, want ek preek eintlik vir myself ook.

Mense is moedeloos. Almal is vies vir hul onderskeie partye. Mense het genoeg gehad van bedrog en korrupsie by staatsdepartemente en swak dienslewering.

Meer verfoeilik is egter die sluier wat altyd dig oor dié dade getrek word. Sodra die skuldiges se dade uitgesnuffel en openbaar gemaak word, word die media of die opposisiepartye van óf ’n heksejag óf rassisme beskuldig.

Foto ter illustrasie.

Baie keer gaan dit ook vir die skuldiges nie soseer oor of die bewerings waar is of nie, maar wáár dit uitgelek het en hoe die fluitjieblaser gestraf kan word.

Wie het gepraat? Wie het gaan klik? Wie moet stilgemaak word? Wie het na die media toe gehardloop?

By die stemlokaal in my dorp gesels mense die afgelope week gemoedelik met mekaar, maar daar is iets droewigs in almal se oë. Bejaardes sit op stoele, sieklikes word vorentoe in die ry gehelp, partykandidate groet hoflik en dra fluks stoele aan.

Twee van my kinders — wat vanjaar vir die eerste keer stem — staan saam met my in die ry en merk alles om hulle op. Die aand aan tafel bespreek hulle die kandidate en die uitdagings en gesels met hul maats wat ook vir die eerste keer gestem het. D

ie registrasieproses het nie vir hulle maklik verloop nie. Dit was moeite; die stelsel het nie altyd lekker gewerk nie; dit het ekstra tyd in beslag geneem, maar nou is almal bly hulle het deurgedruk.

Die afgelope 18 maande was rof op die jonges, dink ek terwyl ek ingedagte oor die inkmerk op my duim vryf. Hulle het te veel getreur. Te veel bekommer. Te veel spanning in die huise, skole en tersiêre instellings beleef. Hulle het te min gelag. Te min partytjie gehou. Te min pret gehad.

Intussen het van hulle Covid-19 opgedoen, inentings getrotseer, geliefdes aan die dood afgestaan, motorlisensies gekry of aanlynstudies baasgeraak. En vir die eerste keer gaan stem.

Vandag se jongmense kan sowaar meer as een ding op ’n slag doen.

Hulle is oopkop en aanpasbaar. Hulle praat beter Engels as hul ouers. Hulle wil studeer, geld maak, dinge uitvind en wérk. Hulle het omgeeharte. Hulle het maats uit alle rasgroepe. Hulle haat onregverdigheid. Hulle dra nie te swaar aan bagasie nie. Hulle wil nie in ’n ander land as Suid-Afrika woon nie. Hulle word nie net gesien nie, maar gehóór ook. Hulle gaan nie stil by die huis bly as iets verkeerd is nie; hulle gaan hul monde oopmaak en praat. In Engels, as dit moet.

Hulle is die nuwe generasie wat opstaan in ons land. Die toekoms is in hulle hande.

Related Articles

Back to top button