BlogsOpinion

Hoofartikel: Aanlynliefde blom (steeds) in grendeltyd

Die soeke na liefde en ’n lewensmaat is so oud soos die oer-skepping — selfs Adam wou ’n Eva kry om die skeppingsprentjie te vervolmaak.

Maar die soeke na liefde en ’n lewensmaat het gedurende die Covid-19-grendeltyd ’n aanlynaffêre met slaggate, slenters en flikkerende rooiligte geraak.

Daar is al voorheen in hierdie rubriek gewaarsku teen jakkalse en uitbuiters. Die keuse van ’n geskikte profielfoto is ook beklemtoon, want potensiële pasmaats besluit binne vyf sekondes of hulle gaan bly of gly.

Die volgende stap is om daardie profiel in te kleur met persoonlike voorkeure en afkeure en gunstelingaktiwiteite of stokperdjies.

Hier moet ’n mens jouself in ’n neutedop beskryf. Is jy geskei met kinders of troeteldiere of albei?

Is jy spitsvondig en spontaan of vriendelik, dog versigtig? Geniet jy ’n aktiewe buitelugleefstyl of verkies jy passiewe pret binnenshuis?

Die aanlyntoep bied ’n mens die keuse om vyf gunstelingtydverdrywe of aktiwiteite op jou profiel te laai.

Die lys van keuses sluit in musiek, fliek, dans, reis, lees, bordspeletjies, museums, kuns, fotografie, skrywer, handige Hansie (doen-dit-self), komediant, omgewingsbewuste of Barmhartige Samaritaan.

Hierdie aanknopingspunte is ideaal om daardie eerste ongemaklike kuberkennismaking te vergemaklik, maar keuses kan natuurlik ernstige gevolge inhou.

Katte of honde? Hierdie is ’n maak-of-breekkeuse, want kies ’n mens slegs honde, sal katliefhebbers neus in die lug verby stap.

Die lys van sport- en buitelugaktiwiteite is genoeg om ’n mens uitasem te laat en sluit visvang, fietsry, tuinmaak, rotsklim, stap, hardloop, swem, gimnasium, gholf, sokker, branderplankry en joga in. Die keuse van “sport kyker” het my laat dink aan iemand wat letterlik die hele naweek voor die kassie vasgenael sit en tydig of ontydig bestellings vir bier en snoepgoed uitroep.

“Gamer” is nie ’n verwysing na ’n wildliefhebber of wildplaas nie, maar in werklikheid die kodewoord vir rekernaarspeletjieverslaafdes. 

Ek was nogal verbaas dat daar nie ’n opsie vir “coach potato” was nie.

Rooiligsirenes moet afgaan wanneer iemand “Grab a drink” sien, want hierdie rampokkers is gewoonlik net op soek na oppervlakkige flirtasies.

Smulpape kan kies om vir die wêreld te wys hulle is koskenners (foodies), kokke, tee- of koffieliefhebbers, bakkers en brouers, bier- of wyndrinkers of piekniekhouers.

Spesiale melding moet gemaak word vir die sensitiewe veganiste en vegetariërs wat sal flou val langs enige Bosveld-braaivleisrooster wat gelaai is met biefstuk, wors en skaaptjops.

Kies dus maar met oorleg wanneer jy liefde in die kuberruim soek, want dié keuses kan die kans om pasmaats te vang, vinniger as die Titanic laat sink.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button