BlogsOpinion

Hoofartikel: Laat ons dan saam juig

So ’n rukkie gelede word ek na ’n vriendin se dogter se 21ste verjaardagpartytjie genooi — ’n verruklike teepartytjie vir die liefkind se “tannievriendinne”.

Die kind het voor my oë grootgeword. Langs die mooi gedekte tafel staan dié jong vrou regop en kyk elke gas in die oë. Sy het ’n láng toespraak. Sy begin op ’n punt en sê vir elke gas by die naam dankie vir die aandeel in haar grootword.

Dié een het haar iets van mansmense geleer. Nog een het haar altyd by die skool gehelp as sy iets tuis vergeet het. ’n Ander een het vir haar gebid voor die eksamen.

Sy noem elke gas se mooi eienskap en sê dankie dat sy iets daarvan kan saamneem op haar toekomspad. Hoe mooi, dink ek agterna.

Sy nooi ons na háár partytjie en pleks dat sy die middelpunt van die partytjie is, kies sy om oor elke gas die seën te spreek en dankie te sê. Sy sê dankie vir dié wat “aan haar kant” is en vir haar omgee. Haar klein “juigkommando”.

Die matrikulante van Hoërskool Frikkie Meyer het op Vrydag 1 Oktober hul matriekafskeid gehou. Op die foto is Taylor de Beer, Keanu van Niekerk, Ruhan Jordaan, Henry Taylor en Zoe Smith wat vir oulaas ’n skoolaktiwiteit saam bygewoon het. Foto: Marizelle de Beer

Die grootmense wat nog altyd vir haar hande geklap en haar agter die skerms aangepor het.

In dié lewe — waar party mense tog so sukkel om vir ander hande te klap — het ons almal eintlik ’n klein juigbende nodig.

Agter élke matrikulant wat vandeesweek by die matriekafskeid was, was daar iewers in die skare ’n grootmens of twee wat gesluk het aan ’n knop in die keel en trane afgevee het.

Iemand wat wéét hoe swaar paadjie daardie kind tot by die rooi tapyt gestap het. Die Pos kon nie anders as om ’n hele koerant aan ons omgewing se matrikulante af te staan nie.

Dit gaan nie oor mode of oor spieëltjie-spieëltjie-aan-die-wand nie. Dit gaan oor oorlewing. Oor ’n staande ovasie aan een van die dapperste groep kinders in die geskiedenis.

Ons hier by die koerant weet hoe swaar vanjaar se matrikulante die afgelope 18 maande gekry het. Alles wat vir hulle belangrik was, is verlede jaar onder hulle uitgeruk.

Daar was nie sport-, kultuur- of ander skoolgeleenthede nie. Daar was nie opedae by tersiêre instellings nie.

Die meeste van dié kinders kon nie ’n 18de verjaarsdagpartytjie hou nie, het gesukkel om afsprake vir hul motorbestuurslisensies te kry en moes oornag leer hoe om aanlyn te studeer.

Sommiges het geliefdes aan die dood afgestaan of moes sien hoe hul ouers afgetakel word deur siekte, bekommernis en ekonomiese krisisse.

Ander was self siek en het agter geraak met die akademie.

Laat ons wat op die pawiljoen sit dan soos een man opstaan en hande klap vir elke kind wat sy of haar kop hoog gehou en oor daardie verhoog gestap het.

Laat ons die juigkommando wees wat agter ons Waterberg-kinders staan om hulle aan te por, vir hulle hande te klap en “aan hul kant” te wees.

Related Articles

Back to top button