BlogsOpinion

Hoofartikel: Wees ’n rolmodel

Vroeër vandeesweek blaai ek deur die foto’s op my sosiale media en êrens tussen die oerwoud van foto’s en inspirerende aanhalings vang dié sin my oë soos ’n aanklag voor ’n hof- uitspraak: “Wees die volwassene wat jy nodig gehad het toe jy jonger was.”

Die gewilde sanger Taché Burger het onlangs die musiekvideo van haar nuwe treffer “Baby ek bly,” bekendgestel en sedertdien neurie ek die woorde van die liedjie met iets soos ’n hol kol op die maag — maar meer positief; meer vertroostend.

Want dié musiekvideo het my laat besef dat daar ’n “alternatiewe normaal” vir ons almal is. Dat ’n mens deesdae in ons land die vryheid het om te wees wie jy wil. Anders of eenders. Nes jy verkies.

Dít is wat daardie “sosiale media-aanklag” van ’n paar weke gelede vir my gesê het: “Wees die rolmodel, wees die Taché Burger, wat ’n kind wat “vreemd” is kan leer dat “vreemd” ’n relatiewe term of begrip is.

Tog laat dit ’n mens wonder wat maak van iemand ’n rolmodel? Wat moet jy as mens doen om die eretitel van “rolmodel” los te slaan? Is daar spesifieke vereistes of dalk ’n vasgestelde stel reëls wat jy moet volg voor jy as ’n rolmodel bestempel kan word. Of is jy bloot ’n rolmodel omdat iemand na jou kyk en dink: “Ek wens ek was soos hy of sy?”

Tienie Crous hou onlangs op ’n bekende radiostasie se aanlynplatform ’n groep mense as rolmodelle voor: die sportster wat jou leer om hard te oefen en nooit op te gee nie.

Die ma wat met liefde en deernis haar kinders leer hoe om verantwoordelike volwassenes te word. Die onderwyser wat sy of haar leerders met passie lei na hul toekomstige loopbane. Is daar dalk meer as een soort rolmodel? vra Tienie. Die antwoord is “ja!”

Ons almal het eienskappe wat ons uniek maak; dié kenmerke wat ons “ons” maak waaraan almal ons uitken, maar so ook het ons almal ’n stryd wat ons voer. Diep binne ons, waar niemand anders dit raaksien nie en daarom het ons soldate nodig wat ons kan help om die stryd te stry. Dit is dié soldate wat uiteindelik ons rolmodelle word.

Dalk is die vraag nie “wat maak iemand ’n rolmodel” nie, maar eerder “wat kan ek doen om vir ander ’n rolmodel te word?” Die antwoord is eenvoudig: Liefde.

In die Bybel maan God ons om mekaar lief te hê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” en al verstaan jy nie noodwendig jou buurman se lewe nie, het jy steeds die verantwoordelikheid om dié bure met respek, deernis en liefde te hanteer.

Ons het almal ’n rolmodel nodig en dit kom in enige vorm.

Leer weer om verdraagsaam te wees en word die volwasse-voorbeeld wat jý nodig gehad het toe jy ’n kind was.

Related Articles

Back to top button