BlogsOpinion

Hoofartikel: Nuwe seisoen, nuwe begin

Die Britse digter Percy Bysshe Shelley het eens gesê: “As dit winter is, kan die lente mos nie ver wees nie.”

So is dit ook met die lewe: As daar hartseer is, sal genesing volg. As daar wanhoop is, sal hoop weer spruit soos ’n lentebloeisel. Lentedag word vandeesweek gevier.

Die begin van ’n nuwe seisoen én ’n geleentheid om weer voor te begin. Aan die begin van elke jaar stel almal ywerig ’n lysie nuwejaarsvoornemens op.

Dié een wil maer word, daardie een wil ophou rook en begin oefen en só herhaal die siklus jaar na jaar: oor begin, ophou, weer probeer.

Dramaturg Emily Acker het gesê solank ons lewendig is, het ons ’n kans om oor te begin en dít is waar die geheim lê; nie in die groot gebare nie, maar in die daaglikse klein oorwinnings.

Oor begin is maklik: Jy plant die saadjie, jy gee dit water, jy snoei elke nou en dan die plant en die plant groei groter en groter.

Saad wag vir water sodat dit kan ontkiem en begin groei, maar as ons dit nie water gee nie, sal die saad tot in ewigheid uitgedroog en vrugteloos in die grond bly lê.

Elke kenner was eens ’n beginner, maar ons is soms geneig om te vergeet dat dit tyd neem om ’n mens se uiteindelike bestemming te bereik.

Dalk moet ’n mens ophou fokus op die groot doelwitte en eerder begin dink aan die kleiner dinge wat ons daagliks kan doen om dié doelwitte te bereik.

Begin stap, al is dit om die blok, totdat jy fiks genoeg is om te begin draf. Daarna draf jy verder en verder totdat jy fiks genoeg is om nog ’n langer afstand af te lê.

Pak vandag jou kas reg en môre, as jy weer tyd het, skuif jy jou meubels rond. Gaan koop dan ’n blik verf en verander die kleur van jou kamer. Voor jy weet het jou huis ’n nuwe baadjie aan — sonder dat die werk jou oorweldig het.

Die probleem met nuwejaarsvoornemens is dat ’n mens jou verbind tot ’n lang tydperk, sonder om noodwendig die alledaagse gebeure in ag te neem. D

ie spreekwoord lui: “Rome is nie in ’n dag gebou nie,” en so moet dit ook wees met ons doelwitte.

Gebruik hierdie nuwe seisoen om tyd vir jouself te maak. Fokus op die natuurskoon rondom jou, leer om weer lief te raak vir die klein dingetjies en gebruik hierdie tyd om weer voor te begin met die doelwitte wat jy dalk vroeër vanjaar nie kon bereik nie.

Related Articles

Back to top button