BlogsOpinion

Hoofartikel: ’n Gat in ons harte en ’n halwe rok

Dankie Mearle, vir so baie dinge wat ek nie eens kan opnoem nie.

Liefste Mearle, jy het my en my kind, wie se matriekafskeidrok jy vanjaar gemaak het, se lewens ingekleur en vir ons die mooiste deel van jou hart gewys.

So tussen die passery deur het jy groot lewenswyshede met ons gedeel. Soos dat huwelike soms ’n gemors kan wees, maar dat kinders en kleinkinders ’n mens se grootste vreugde in die lewe is.

Jy het my menigmaal stilgemaak en gesê: “Dis nie jý wat die rok gaan dra nie; dis sý.”

En dan het julle gespot oor hoe julle die pa wil skrikmaak met voorbeelde van vreeslike lae halslyne, loergate en bene wat tot waar wys. Ons het baie gelag, want jy het graag vertel wat is die verskil tussen ’n “sexy” rok en ’n “slutty” rok en jy “doen nie slutty nie”, het jy benadruk.

Ek en my kind sal vir altyd die reis saam met jou onthou: van prentjies soek, tot lap koop en uiteet in Pretoria tot sny en pas.

Jy was die onbetwisde queen van matriekafskeidrokke en my kind kon nie wag vir haar Tannie-Mearle-rok nie. Soms as sy aangepas het, het jy trane in jou oë gekry en gesê jy sien al hoe mooi die eindproduk gaan wees.

Ons was verpletter toe ons hoor Covid-19 het jou beet, maar jy het ons laat glo jy gaan gesond word; dat jy elke dag beter voel; dat jou bors mooi “oop” is; dat ses cupcakes al is wat jy van die dorp af nodig het om jou nóg beter te laat voel. En dat jy so gou moontlik uit jou nagklere wil kom sodat jy aan die rokke wat wag kan werk.

Ons het vir jou vertel hoe ons geel ballonne aan die Casablanca-woonstelle se hek gaan hang as jy uit die hospitaal kom, maar jy het toe nie gekom nie.

Ons het gesmeek dat jou lewe gespaar word, maar jy het nie weer wakker geword nie.

Jy het net van een droomwêreld na ’n ander een geglip en ons hier met flenter- tjiesharte en ’n halwe matriekafskeidrok gelos.

Dankie Mearle, vir so baie dinge wat ek nie eens kan opnoem nie.

Dankie dat jy, selfs toe jy al baie siek met Covid was, vir my boodskappe uit die hospitaal gestuur het waarin jy vra of “ons kind” oukei is.

Sy is oukei, Mearle. Net nie as ons by die Casablanca-woonstelle verbyry nie. Dan is daar ’n gat in ons harte.

Related Articles

Back to top button