BlogsOpinion

Hoofartikel: Raak vir my rustig

Geseënd is die kalmblyers (en hul nageslag en húlle nageslag), want die vet weet in krisistye het niemand ’n histeriese persoon nodig nie.

Daar is die diva’s, die drama queens en die doemprofete.

En dan is daar die kalmblyers. Geseënd is hulle (en hul nageslag en húlle nageslag), want die vet weet in krisistye het niemand ’n histeriese persoon nodig nie. In tye soos dié het ons almal ’n kalmblyer in ons vriendekring of familie nodig.

Dit is hulle — die kalmblyers — wat nie skrik nie. Of in elk geval — nie vir jou (die bangbroek) wýs dat hulle skrik nie.

Hulle jok soms só gesaghebbend dat ’n mens se hart skoon bedaar en jy rustiger asemhaal. Hulle kan jou só oortuigend verseker dat alles onder beheer is; dat hierdie situasie “normaal” is; dat hulp op pad is of dat die slang nie giftig is nie, dat jy hulle op die plek glo en jou hartklop inderdaad bedaar.

Eers later vind jy uit alles was nié onder beheer nie: die situasie was ’n nagmerrie; daar was nie selfoonsein om hulp te ontbied nie en die kalmblyer het nie eintlik ’n idee van watter slange giftig of niegiftig is nie.

Hulle maak soos die Afrikaanse sanger Snotkop sing. Hulle vat ’n krisis soos ’n Vrydag. Hulle laat die worries van jou rug afrol. “Raak vir my rustig,” vermaan hulle jou.

Die kalmblyers is ambulanspersoneel wat op ’n ongelukstoneel aankom en met vaste sekerheid ’n vernielde mens se drip aansit en beddens uit die voertuig laai.

Dit is die dokter wat bedaard uitvra oor medikasie wat jy gebruik of onderliggende siektetoestande wat jy ervaar terwyl hy solank jou leêr bekyk en sy stetoskoop regskuif.

Dit is die kleuterskooljuffrou wat bloed afvee en sê: “Hierdie sny maak die dokter sommer gou reg met ’n paar steke.”

Dit is die vriendin wat jou daagliks verseker: “Jy gáán gesond word. Julle gaan oukei wees.”

Dit is die dominee, sielkundige, berader of terapeut wat stil luister en dan sê: “Ek hoor jou. Ek is saam met jou in hierdie ding. Jy kán. Ons kan.” En dit bedoel.

Dit is hulle wat in krisistye leiding neem. Hulle maak oproepe. Hulle maak kos. Hulle tref reëlings. Hulle bel die versekeraar, dokter, polisie, naasbestaandes, bure, apteek, baas, wie ook al, terwyl die diva’s en die drama queens en doemprofete hulle met bewende vingers tot sosiale media wend.

Moenie op reis gaan nie — fisiek of geestelik — sonder ’n kalmblyer in jou groep nie. Nie nou nie. Nooit nie.

Related Articles

Back to top button