BlogsOpinion

Hoofartikel: Waar die hart van vol is

“Waar die hart van vol is loop die mond van oor,” lui die ou gesegde.

Maar kan ons deesdae steeds iemand veroordeel aan die woorde wat uit sy of haar mond kom?

As boorling van Pretoria het ek grootgeword in ’n milieu waar ’n mens nie noodwendig jou woorde hoef te tel nie, want min mense slaan werklik ag op die gesprekke wat rondom hulle aangaan.

In die stad is die lewe só gejaagd dat ’n mens maklik met jou dagtake kan aangaan sonder om noodwendig raakgesien te word deur die mense by wie jy in die strate verbystap.

’n Mens kan doen en sê wat jy wil en in die meeste gevalle skotvry daarvan af kom, maar hier in Thabazimbi is dit anders.

Vir ’n stadsjapie was dié aanpassing moeilik: Ek het in Februarie vanjaar vir die eerste keer in Thabazimbi aangekom en ná skaars ’n halwe jaar hier het ek al soveel keer besef dat mense op die platteland baie nader aan mekaar leef as in die stad.

Ons sien elke dag dieselfde name op Whatsapp-groepe en leer dié mense ken. Ons sien wat vir hulle belangrik is, watter bydraes hulle in die dorp lewer en ons luister na wat hulle sê.

Dit bring my terug na die vraag: Is dit wat ’n mens sê werklik belangrik?

Die Chinese het ’n spreekwoord wat lui dat woorde nie soos voëls is nie; as dit eers gevlieg het, kom dit nie terug nie.

Dit is soms baie maklik om dit wat ons sê as onbelangrik af te maak, maar as daar een les is wat ons by die Chinese kan leer, is dit dat ons woorde baie soos wapens is — dit het die potensiaal om baie skade te berokken en daarom moet ons baie versigtig wees met wat ons sê wanneer ons dink niemand hoor nie.

Ek het al self sulke stelle afgetrap. Soms sê ’n mens iets wat jy as onskuldig beskou, maar sonder dat jy dit so bedoel het, ontstel jou vuil grappie, vloekwoord of kras uitdrukking iemand wat dit per ongeluk gehoor het.

’n Mens wil dit graag afmaak as “onskuldig of ligsinnig,” maar die waarheid is dat daardie woorde wat geuiter is, ’n sekere beeld van jou skep wat jy selde kan regstel of verander.

In haar boek What you missed while you were blinking skryf Rachel Wolchin: “Be mindful when it comes to your words. A string of some that don’t mean much to you, may stick with someone else for a lifetime.”

Dit is deesdae so maklik om jou sê te sê: Op sosiale media het ons vrye teuels om iemand uit te kryt as ’n aap vir die menings wat hulle lug, sonder dat ons enigsins gekonfronteer hoef te word met die nagevolge, maar die waarheid is dat hierdie “anonieme opmerkings” ’n blywende indruk laat.

In ’n moderne wêreld waar inligting vrylik beskikbaar is en waar ons toegang het tot eindelose bronne en verskeie platforms waarop ons ons menings kan deel, het ons skynbaar vergeet dat ons steeds verantwoordelik is vir dit wat ons so maklik sê.

Kom wend weer ’n daadwerklike poging aan om te let op wat ons sê. Kom ons neem mekaar weer ’n bietjie in ag en dink twee keer voordat ons praat en dalk belangriker nog, kom ons dink aan dié wat reeds moes worstel met ons woorde.

Wees versigtig met jou woorde, want woorde kan soms wapens word!

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button