BlogsOpinion

Hoofartikel: Hoekom is ons almal so kwaad?

Hoekom is mense so gou om kwaad te word? So gou om af te breek en te plunder? So gou om geweerskootwoorde af te vuur?

Die onlangse onluste en rampokkery in groot dele van KwaZulu-Natal en Gauteng het my opnuut laat nadink: Hoekom is mense so gou om kwaad te word? So gou om af te breek en te plunder? So gou om geweerskootwoorde af te vuur?

Ons sien orals mense wat kwaaigesig trek en hul ontevredenheid hard en duidelik te kenne gee oor munisipaliteite se swak dienslewering, diskriminasie in die werkplek, Covid-19-maatreëls en skoolkalenders wat vir die hoeveelste keer verander word.

Daar is ontstelde winkeleienaars wat versperrings oprig om te keer dat rampokkers hul winkels plunder.

Slagspreuke skreeuend tydens optogte oor loonverhogings, waterkrane wat opdroog, ontevredenheid oor elektrisiteitstariewe en die gebrek aan behuising.

Klipgooiers langs paaie omdat politieke partye se geelwortelwoorde net leë beloftes was.

Gebalde vuiste in die lug omdat korrupte amptenare nie voor stok gekry word nie, maar jaar na jaar vetter salarisse ontvang.

Armswaaiende optredes buite skole omdat daar gerugte is van onregverdige diskriminasie en ’n rasgedrewe taalbeleid.

Warm-onder-die-kraag-mense in lisensiekantore waar amptenare tydsaam deur dokumente blaai en kort-kort die horlosie dophou in afwagting op hul volgende teepouse.

Onderlangse vloekery by munisipale kantore waar foutiewe rekenings en watermeterlesings maand na maand uitgestuur word.

Rooigesigte in motors nadat daar vir die hoeveelste keer deur nog ’n nuwe slaggat gery is en swetsend by ’n verkeerslig wat ná weke steeds buite werking is.

Uitbarstings oor Covid-19 se “nuwe normaal” wat hom permanent in ons huise, skole, kerke, winkels en werkplekke kom tuismaak het.

Magtelose woede oor nóg ’n broodwinner wat sy of haar werk verloor het.

Waar is die keerpunt? Hoe moet mense hul woede en frustrasies op gesonde maniere ontlont wanneer deelname aan sport- en buitelug-aktiwiteite ook ingeperk en opgeskort word?

Selfs toeskouers wat voorheen na hartelus hul week se frustrasies op die skeidsregter kon uithaal, sit nou gemuilband voor die kassie.

Die herlaai van batterye tussen familie en vriende, die geskater en samesyn by kuierplekke en enige ander sosiale interaksies is stopgesit.

Ons word verplig om orals afstande te handhaaf en te isoleer. Ook die geestelike onderskraging en gemeensaamheid tussen medegelowiges moes gestaak word.

Ons ly honger sonder die broodnodige manna vir die gemoed wat nou net virtueel beskikbaar is.

Waar ons voorheen uit volle bors sou juig sonder vrees en sonder maskers — is ons stom.

Prys die Heer met blye galme, o my siel … o my siel.

Related Articles

Back to top button