BlogsOpinion

Hoofartikel: Wie A sê, moet ook B sê

Hier te kort en daar te lank en voor jy weet, lê jou nuutste selfdoenprojek weggebêre in Pandora se gangkas vir die nageslag om te ontdek.

Hoeveel van ons het nie al dié ervaring gehad nie: Jy blaai deur verskeie toepassings op jou selfoon en verkyk jou aan al die mooi goed — ’n macramé-mandjie met ’n weilige varingrangskikking in of ’n laaikas wat geverf is met die nuutste (en in baie gevalle, duurste) verf op die mark?

Dan pak die inspirasie jou beet. Jy haas jou na die naaste kunswinkel, koop hope materiaal en allerhande knopies of blinkertjies en siedaar!

Jou nuutste projek is in wording … en nog steeds in wording … en ’n paar maande later wonder jy waar die tyd heen is. Die afgelope jaar was baie van ons in sulke omstandighede toe die verveling tydens die inperking sy piek bereik het.

Hoeveel van ons se projekte is afgehandel? Hoeveel van ons het toe daardie 5 kg afgeskud of daardie laaikassie klaar geverf?

Die hartseer is dat dit soms ook so met die lewe gaan: die tyd vlieg verby, ons raak besiger en besiger en voor jy weet, is die tyd verby? Wat dan? Hoe gaan ’n mens aan ná ’n teleurstelling? Hoe vergeet ’n mens die spyt en hoe sit jy die verwyt agter jou?

Oudpres. Nelson Mandela het eens gesê: “Iets lyk altyd onmoontlik totdat dit verby is.”

Hy het gepraat van harde werk en deursettingsvermoë — daardie iets binne-in ons almal wat ons aanspoor om aan te hou ten spyte van terugslae.

Sy lewensles is op so baie aspekte van die lewe van toepassing.

Die Afrikaanse spreekwoord lui: “Wie A sê, moet ook B sê.” Die een wat met iets begin, moet dit klaarmaak. Die een wat die fout begaan het, moet dit regmaak. Die een wat val, moet weer opstaan.

Die afgelope week is ons dorp geruk deur die dood van talle geliefdes. Dit is in tye soos hierdie dat ons weer herinner word aan spyt se “kort beentjies”.

Moksie Pelser, een van ons dorp se mees geliefde inwoners wat die afgelope week haar stryd teen kanker verloor het, het geglo ’n mens moet ’n lewe leef wat altyd onthou sal word. Jy moet jou merk maak en nie aanhou spyt wees oor wat verby is nie.

Ons kan almal uit haar voorbeeld iets leer van uithou en aanhou. Daar sal altyd êrens ’n klip in die pad lê en daarmee saam ook ’n geleentheid om te groei en sterker aan die ander kant van die uitdaging uit te kom.

Die Afrikaanse digter Philip de Vos het geskryf: “Blaai jy deur die ABC, dan leer jy gou ’n les of twee. Want tussen aambeie en zen leer ’n mens die lewe ken.”

Ons terugslae definieer ons nie, maar die lesse wat ons daaruit leer, maak ons sterker en wyser mense.

Kom ons maak dié week ’n punt daarvan om ’n nuwe uitdaging aan te pak; al is dit iets kleins: Leer hekel, begin oefen, bel dié vriendin in die Kaap met wie jy so lanklaas gesels het.

Doen iets om jouself uit te daag en wanneer jy voor ’n klip in die pad te staan kom, rol jou moue op en gryp die geleentheid met ’n glimlag op jou gesig aan, want dit is in dié tye dat ons sin aan ons lewens gee.

Related Articles

Back to top button