BlogsOpinion

Hoofartikel: Hand-aan-hand kry mense weer hoop

Die land is aan die brand, die begraafplase vol, misdaadsyfers styg daagliks en die werkloosheidsyfers laat ons ekonomie steier: Waarheen is ons op pad?

Die spreekwoord lui: “As jy teen die grond is, is die enigste rigting om in te beweeg op. Selfs al gaan dit sukkel-sukkel lyk dit asof ons dorp daagliks, hand-aan-hand, weer besig is om die trappe boontoe te klim.

Onstuitbaar vorentoe; gewond, maar onoorwonne.

Thabazimbi is verlede week geruk deur die dood van talle geliefdes in die dorp. Vandeesweek lyk die situasie nie veel beter nie.

Mense sterf, verloor hul werke, verloor moed, maar getrou aan ons aard bly Thabazimbi-inwoners vorentoe beur. Ons raak moeg, ons raak bang, ons raak neerslagtig, maar ons verloor nie hoop nie.

As ’n mens deur die strate van die dorp ry, word jy om elke hoek en draai begroet met ’n giggelgeel strik wat om ’n boom gebind is — ’n teken van nuut begin, ’n teken dat ons nooit alleen is nie, ’n teken van hoop.

Die 16-jarige Anne Frank, ’n Joodse meisie gedurende die Tweede Wêreld-oorlog, het in haar dagboek geskryf:

“Waar daar hoop is, is daar lewe.”

Hierdie woorde is iets wat ons almal kan onthou wanneer ons verby die geel boomstamme ry. ’n Broodnodige herinnering dat ons nie alleen is nie en dat daar altyd, altyd hoop is. Ons kan by hierdie 16-jarige meisie leer om moed te hou.

Skaars ’n maand gelede het ’n groep jong Voortrekkers dit reggekry om met iets so klein soos ’n versameling plastiese bottelproppies ’n rolstoel te finansier vir ’n minderbevoorregte landsburger.

In Junie het ’n groep barmhartige fietsryers van die Thabazimbi-fietsryklub met ’n eenvoudige wedren dit reggekry om geld in te samel vir ’n sopkombuis.

Vroeër dié maand het ’n groep plaaslike sangers ’n paar minute uit hul eie dag geneem om die inwoners van Tambotie Tehuis te vermaak en met ’n klein gebaar van liefde en omgee ’n groot verskil gemaak.

Thabazimbi se haweloses het ook hoop gekry met die opening van die Thabazimbi Homeless Shelter.

Dit is wanneer ’n mens hierdie stories hoor, dat jy opnuut besef ’n mens hoef nie noodwendig berge te versit om ’n verskil te maak nie, maar dat liefde, deernis en omgee ’n onbeskryflike groot invloed op die mense om ons kan hê.

Dit is in tye soos dié dat ons besef dat ons ’n toekoms kan bou en kan hoop skep waar daar eens angs was.

Kom ons vat hande en saai hoop vir dié wat dikwels wonder waar hul hoop vandaan kom.

Related Articles

Back to top button