BlogsOpinion

Hoofartikel: Afrikaanse dorpsname en wolhaarstories

Afrikaanse dorps- en plekname het my nog altyd opgeval en net soos die woord “perdeby” nie direk vertaal kan word in Engels as horse-bee nie, sal sommige dorpsname ook hul betekenis verloor as dit vertaal word.

Soms kan ’n mens net kopskuddend lag oor die stories agter ’n pleknaam.

Die Kamanassieberge in die Wes-Kaap is glo deur die Khoisan gedoop as “Berg van water” en ’n mens hoef nie te wonder hoekom die hoogste piek Mannetjiesberg heet nie.

Volgens bronne het Marble Hall ontstaan toe ’n ene Christoffel Visagie en sy gesin op jag in die omgewing was en ’n krater met marmer ontdek het. Nadat ’n mynmaatskappy die neerslag begin ontgin het, is die dorp genaamd Marmerhol in 1942 gestig.

Die dorpnaam is weldra verander na die meer betaamlike Engelse weergawe soos ons dit vandag nog ken. In die somer van 1844 het Dawid Johannes Joubert ’n wolkbreuk in die Mariepskop omgewing beleef wat tot ’n kitsvloed gelei het in wat nou bekend staan as die Zandspruit.

Dit was tydens hierdie storm dat Joubert sy kosbaarste besitting, sy hoed, verloor het. Omdat die rivier kwansuis sy hoed gesteel het, het hy dit die Hoedspruit gedoop.

Etlike jare later het hy sy plaas in die omgewing ook as Hoedspruit geregistreer. Dit is daar waar die dorp in die vroeë 1950’s gestig is. Net skuins langs Dullstroom is daar ’n Stoffberg én ’n Stofberg — niemand weet hoe die verwarring oor die verkeerde spelling ontstaan het nie, maar uiteindelik het albei plekke ’n naambord gekry.

’n Klipgooi noord is ’n plekkie met die romantiese naam, Hartelus, en daar neffens Saaiplaas, Draaikraal, Roossenekal, Tonteldoos, Monsterlus, Eenzaam, Uitvlugt en De Hoop.

Hierdie volkseie Afrikaanse name het ’n wolhaarstorie in my kleurvolle verbeelding laat ontkiem.

Almal is Eenzaam, maar De Hoop sal nie beskaam nie, want daar is altyd ’n Uitvlugt. So het Stoffel van Stofberg (met net een f) gaan vlerksleep by Sannie van Saaiplaas.

Op die afgespreekte dag het Sannie ’n piekniekmandjie boepens gepak met melktert, snye bakoondbrood met plaasbotter en appelkooskonfyt, dun repies springbokbiltong, koffie en boerbeskuit.

By Roossenekal gee Stoffel vir haar ’n roos, gegaps uit die pastorie se voortuin, want oom Bles het altyd so mooi gesing van rose.

Vir middagete maak hulle ’n slap draai op Draaikraal, maar op Tonteldoos het dinge begin warm raak waarna hulle na hartelus kon vry op Hartelus. Die son trek water en hulle val weer in die pad, huiswaarts.

Dis toe Stoffel kwansuis vergeet waar die plaaspad se afdraai is, dat Sannie begin onraad vermoed, want sy weet die volgende stop is Monsterlus.

Related Articles

Back to top button