BlogsOpinion

Hoofartikel: Versigtig met die www-woorde

Soek, soek, klik, sign up, I am not a robot ... klik, klik en klaar: jy het amptelik ’n profiel geskep op een of ander sosiale mediaplatform, maar wat nou?

Nou kan jy na hartelus foto’s begin oplaai van jou vakansie in Thailand sodat jou buurvrou, wat met Jan Tuisbly se karretjie gery het, ’n bietjie jaloers kan wees op jou lewe.

As jy ’n tiener is, sal jy sekerlik, soos al jou maats, die een of ander uitdaging aandurf terwyl jy jou daaglikse “live-videotjie” opneem.

Dit sal natuurlik sorg dat jy meer op-duimpies as die ander kinders kry. Dalk wil jy raad vra oor jou nuutste kunsprojek en wend jou tot die plaaslike kunsklub se Facebook-blad met ’n foto wat vra hoe jy jou skoonma se ou spieëlkas kan versier sodat jy dalk ’n bietjie minder aan haar dink as jy soggens sit en bolla klits.

Ons almal het een of ander vorm van sosiale media wat ons daagliks gebruik — ’n Whatsapp-boodskap hier, ’n plasing of twee op Facebook daar, ’n nuwe foto op Instagram met die perfekte hutsmerk om die spreek- woordelike kersie op die koek te sit of selfs ’n verandering op jou CV om jou LinkedIn-profiel op datum te bring.

Ons het ’n digitale voetspoor, maar wat ons nie altyd besef nie, is dat dié voetspoor nagespeur kan word en dat daar dikwels sosiale-mediaspoor- snyers gereed staan om elke foutjie wat jy maak, uit te snuffel.

Die afgelope week het die sogenaamde “nuwe reëls” vir groepe op sosiale media die ronde gedoen en mense het een na die ander gespook om dié boodskap op hul eie blaaie te deel: “Ek gee nie toestemming dat my kontakte my inligting deel nie” of “Ek wil graag op die groep bly”, maar besef ons werklik wat ons alles toelaat wanneer ons die eerste dag daardie “I am not a robot-boksie” merk?

Die waarheid is dat ons met die registrasie van ’n nuwe sosiale mediaprofiel toestemming gee vir spesifieke inligting om openbare kennis te word en dat ons, soms onwetend, ons inligting aan die wêreld blootstel wanneer ons die “terms and conditions” wat dié platforms vereis, aanvaar.

Dink byvoorbeeld aan ’n paar groepe wat jy daagliks op sosiale media gebruik: Jou dorp se diensleweringsgroep, jou kind se klasgroep, jou gemeente se omgeegroep …

Al hierdie groepe, net soos die platforms waarvan dit deel uitmaak, het hul eie stel reëls en regulasies en daarom het ons as sosiale mediaverbruiker ’n ongelooflike groot verantwoordelikheid op ons skouers. Die wêreldbekende skrywer en familiesielkundige Dave Willis het eens gemaan dat ons nie sosiale media-platforms moet gebruik om mense te beïndruk nie, maar eerder om mense te beïnvloed.

Hoewel ons nie besef hoe groot ons invloed werklik is nie, kan een boodskap wat aangestuur word, ’n groot impak hê.

Soos Spiderman se Uncle Ben gesê het: “With great power comes great responsibility” en daarom moet ons baie versigtig wees met hoe ons met ons sosiale media omgaan.

As jong student het ek self al in daardie strik getrap nadat iemand wat ek op ’n aanlyn “Hoekie vir eensames” ontmoet het, gedreig het om ons persoonlike boodskappe openbaar te maak. Hoewel dit uiters ongrondwetlik is, het ek geen voet gehad om op te staan nie, aangesien die reëls en regulasies van die spesifieke platform geen melding gemaak het van die “deel van persoonlike boodskappe nie”.

Ek het daar die eerste duur sosiale mediareël geleer: Lees altyd die fynskrif!

Wanneer jy jou naam en van, adres, telefoonnommer of selfs jou foto’s op sosiale media plaas sonder om jou profiel se verstellings aan te pas, is al jou inligting aan die publiek beskikbaar om te lees en gebruik. Om dan nie eens te praat van die hoeveelheid inligting wat jy, sonder dat jy dit besef, openbaar maak nie.

Die Engelse sê: “A picture is worth a thousand words” en op min plekke is dit só waar soos op jou sosiale media profiel. Dink byvoorbeeld aan jou Durban-vakansiefoto’s van ’n paar jaar gelede.

Wou jy werklik aan booswigte verkondig dat jy vir ’n week weg van die huis is? Is die foto van jou en jou studenteliefde op die dansvloer die soort foto wat jou werkgewer moet sien wanneer jy jare later vir ’n onderhoud gaan?

Rush Limbaugh, die Amerikaanse politikus, het eens gesê: “Die feit dat duisende mense hul nuus op sosiale media lees, is skrikwekkend.” Met dié woorde van Limbaugh kan ons ’n tweede belangrike les leer: Nie alles wat jy op sosiale media lees is waar nie.

As mense het ons ’n inherente drang na inligting. Ons wil weet wat om ons aangaan, maar daarmee saam moet ons ook die verantwoordelikheid hê om ons huiswerk te doen en ’n ingeligte besluit neem voor ons verder fopnuus deel.

Google is nie ’n dokter nie en @JohanVanKleinsAf is nie ’n nuuswaardige bron nie en daarom is dit jou verantwoordelikheid om jouself en die mense om jou te beskerm deur jou sosiale media meer verantwoordelik te gebruik. Die lug is nie noodwendig pienk nie, al sê Francois van Facebook so.

Kom ons neem verantwoordelikheid vir ons eie sosiale mediaplatforms en herinner onsself weer daaraan dat die pen magtiger is as die swaard, dat ons op sosiale media die mag het om te maak of breek en dat ons die verantwoordelikheid het om met wysheid die beste uit ons sosiale mediaprofiele te kry.

Related Articles

Back to top button