BlogsOpinion

Hoofartikel: Ondersteun plaaslike sakelui

Die Switserse psigiater Karl Jung het gesê: “Wat met my gebeur het, is nie ék nie; ek is wie ek kies om te wees ná dit met my gebeur het.”

Die afgelope jaar het ons almal te staan gekom voor ’n heel nuwe uitdaging met die uitbreek van die Covid-19-pandemie. Baie van ons staan steeds gebukkend voor dié Goliat en ons wonder hoe ons die jaar gaan oorleef; of dit nou ons persoonlike welstand raak of dalk dié van iemand na aan ons.

Skoolkinders se sport- en akademiese jaar is geknip, atlete se voorbereiding is belemmer. Ons almal is op een of ander manier geraak deur die virus.

Ons is ’n hou of twee toegedien, maar hoe staan ’n mens op? As ’n mens deur winkelsentrums loop of bloot deur die strate van Thabazimbi ry, is dit skrikwekkend om te sien hoeveel sakeondernemings reeds hul deure gesluit het. Hoeveel maatskappye moes afskaal en hoeveel werkgeleenthede verlore gegaan het.

’n Groep Thabazimbi-atlete het verlede week ander inwoners geïnspireer met hul deursettingsvermoë tydens ’n virtuele Comrades-marathon. Die belangrikste les wat ons by dié atlete geleer het, is dat dit uiteindelik spanwerk is wat die wa deur die drif trek.

Dit is juis dié soort spanwerk wat die sleutel is tot sukses; of dit nou ’n groep skool leerders is wat saam-saam deur die uitdagende skooljaar worstel of ’n plaaslike sakeonderneming wat ingryp en help waar hul kan. Jacques Blaauw, ’n bekende sakeman van die dorp en voorsitter van die Thabazimbi-sakekamer, het onlangs gesê die sleutel tot sukses in uitdagende tye soos dié is eenvoudig: “Ons moet innoveer”.

Die “nuwe normaal” — soos hy daarna verwys het — is dat sakelui moet leer om op nuwe, kreatiewe maniere moet voortgaan. Dié innovering geld ook vir verbruikers.

Dink byvoorbeeld aan die vrou wat langs die pad sit met haar handslinger-naaimasjien waar sy dag na dag haar brood verdien met ’n loswerkie hier en daar.

Dit is deesdae so maklik om klere aanlyn te bestel terwyl daar inderwaarheid ’n kleremaker op jou voorstoep is.

Elke dag bring nuwe geleenthede en uitdagings. Dit is die perfekte tyd om mense om ons raak te sien en saam-saam hierdie uitdagings die hoof te bied.

Kom ons gebruik dié tyd om meer op mekaar se behoeftes te fokus, om ons ou gewoontes te vernuwe en saam met ons gemeenskap innoverende planne maak om uitdagings aan te pak. Kom ons ondersteun plaaslike sakelui en versterk op dié manier hul hande.

Related Articles

Back to top button