BlogsOpinion

Hoofartikel: Om beter te kan ruik, my kind

Vandeesweek dink ek weer daaraan terug toe ’n Covid-19-oorlewende my vertel hoe sy haar smaak- en reuksintuie verloor het.

Ek was eenkeer tien dae van die huis af weg — die langste tyd ooit terwyl my kinders klein was.

Met my terugkoms het ’n kind gesê: “Ek het so baie verlang dat ek my neus in Mamma se klerekas gedruk het om vir Mamma te ruik.”

Dit was vir my vreemd, want ek versamel van altyd af parfuumbottels en koop selde dieselfde geur. Ek het gewonder watter reuk die kind daar gesoek het?

Vandeesweek dink ek weer daaraan terug toe ’n Covid-19-oorlewende my vertel hoe sy haar smaak- en reuksintuie verloor het.

“Of jy koffie of kookwater drink, jy proe nie die verskil nie.”

Nog iemand vertel:

“Toe ek en my man die oggend elkeen ’n piesang eet en hy vra of myne ook so smaakloos is,” toe wéét ons hy het Covid-19.

’n Ander vrou vertel hoe sy in ’n weddenskap ’n vuurwarm rissie verorber het sonder om ’n oog te knip — en die volgende dag positief getoets het.

Wanneer mense alleen in aftreeoorde sterf, as daar nêrens in Gauteng hospitaalbeddens beskikbaar is nie, wanneer jy snak na asem, is die verlies van ’n mens se smaak- en reuksintuie seker ’n klein prys om te betaal.

Maar hoe gemeen is dié monstersiekte nie om nog boonop een van die klein vreugdes in mense se lewens te steel nie?

Aan dié wat wag dat die reuke en smake moet terugkeer, mag dit gou gebeur. En mag ons almal weer van nuuts af die lekkertes wat ons as vanselfsprekend aanvaar het, waardeer:

Bitter boerekoffie met soet kondensmelk.

Die sprankel van ’n vars suurlemoen van die boom af.

’n Basaarpannekoek wat lê en stoom in die kaneelsuiker.

Donker sjokolade met ’n spatsel growwe sout by.

’n Spoggerige suurlemoenmerinquetert wat die kieue van lekkerkry laat saamtrek.

’n Diep teug uit ’n glas beleë rooiwyn.

Die byt van ’n Bo-Kaapse kerrieafval.

Ster-anys in ’n rysgereg.

Naeltjies op ’n seer tand.

Tiemie saam met gebraaide hoender.

Laventel onder die kussing om beter te slaap.

’n Klein prys? Sekerlik. Maar nogtans — vir dié wat dit betaal het — ’n bittersoet prys.

Related Articles

Back to top button