BlogsOpinion

Hoofartikel: Twee koppe is beter as een

Die spreekwoord lui “twee koppe is beter as een”.

Só word ons van kleins af geleer en vandag nog sit kinders in hul skoolbanke en leer “twee koppe is beter as een” beteken ’n mens is sterker en slimmer in ’n span as wat jy alleen is. Ek vang myself gedurig my oë rol vir dié soort aanmerking en ek wil my verstout om te sê ek is nie al een wat só voel nie. Dis nie dat dié soort opmerking ongevraagd of soetsappig of onwaar is nie, maar somtyds val dit maar net op dowe ore en dan kort ons iets om ons weer te herinner aan die krag van saamwerk.

Die afgelope naweek het ’n groep atlete die langpad aangedurf om deel te neem aan vanjaar se virtuele Comrades-marathon en dis daar waar ek opnuut besef het wat die waarde van ’n span is.

Dit is somtyds moeilik om jou in dié situasie in te dink: Staan om 23:00 op, spring in die stort, trek jou oefenklere en tekkies aan en gaan stap of hardloop 90 km in die bibberende winterweer terwyl dit stikdonker — selfs in die strate van Thabazimbi — is.

Hoe doen ’n mens dit?

Afgesien van hoe fiks ’n mens is, hoeveel maande jy al vir die wedloop voorberei, hoe jy jou dieet en leefstyl aanpas om optimaal te funksioneer in hierdie toestande — hoe kry jy dit reg om jouself op die pad te kry in die vroeë oggendure en tree vir tree vir tree aan te hou stap terwyl jy weet jy gaan op dieselfde plek uitkom?

Hoe motiveer jy jouself om aan te hou stap, selfs al voel dit asof jou lyf nie meer kan nie? Die antwoord is dood- eenvoudig: spanwerk. Noem dit wat jy wil: vriendskap, kameraadskap, samesyn, dinkskrum hou, vergader, debatteer, argumenteer — spanwerk is die sleutel tot baie van ons daaglikse suksesse (groot en klein).

Suid-Afrikaners het op Woensdag 16 Junie landwyd Jeugdag gevier en teruggedink aan die Soweto-opstande van 1976 toe ’n groep skoolkinders saamgestaan het en hand-aan-hand ’n revolusie begin het wat uiteindelik gelei het tot groot veranderinge in die destydse sosio-politiese omstandighede van die land.

Hoe is dit dat ’n groep skoolkinders, jongmense wat deur baie nog as domastrant bestempel is, só ’n groot verskil kon maak? Die antwoord is eenvoudig: spanwerk.

Die Amerikaanse skrywer en entrepreneur Ken Blanchard het dit mooi gestel: “Niemand van ons is só sterk soos almal van ons nie.” Dit is waarom ons in tye soos dié soms herinner moet word aan die mag van spanwerk.

Ons vier Vadersdag op Sondag 20 Junie. Een dag in die jaar word uitgesonder om van die belangrikste mense in ons lewens, ons pa’s en ons oupas, te vier. (Maar) ons word ook sommer opnuut herinner aan die belangrikheid van spanwerk.

Soos die Engelse spreekwoord lui: It takes a village to raise a child. ’n Belangrike deel van dié spreekwoordelike dorpie is ’n pa.

Die eerste man vir wie ’n meisie ooit lief raak, die eerste mens by wie ’n seun leer hoe om iemand lief te hê.

Een van die eerste mense by wie ’n kind leer van respek en naasteliefde en natuurlik — spanwerk.

Kom ons neem ’n bietjie tyd af en sit weer koppe bymekaar en probeer om Thabazimbi ’n beter plek te maak vir almal. Twee koppe is immers beter as een.

Related Articles

Back to top button